Borg van man ingetrek

DIE borg van ’n man van Calitzdorp wat saam met twee ander van roof met verswarende omstandighede aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof gekanselleer nadat hy vir ’n vyfde keer versuim het om na die hof te kom.

Flip Abrahams word saam met Henrico Lindt en Malcolm Windvogel daarvan aangekla dat hulle die aand van 27 September 2014 twee broers beroof en die een met ’n mes gesteek het. Volgens Christo Pockpas het die drie mans hom van sy beursie met R400 beroof, sy broer met ’n skerp voorwerp gesteek en van ’n onbe­kende bedrag geld beroof.

Abrahams se verskonings vir sy af­we­sigheid is deur streeklanddros Ntso­ki Moni verwerp. Volgens haar is daar reëlings met die beskuldigde getref dat, indien hy vervoerproble­me ondervind, hy na die Calitzdorp Polisiekantoor moet gaan wat hy nie gedoen het nie. Daarteenoor gaan sy medebeskuldigde, Malcolm Windvogel groot koste aan om by die hof uit te kom.

Abrahams het gesê hy sal hom tot die hooggeregshof wend omdat hy nou die blaam kry vir ’n saak wat al sedert 2014 sloer. Hy het die landdros gevra om klaar te maak omdat hy nog niks die oggend geeët het nie. “Ek is honger en wil ook gaan rus,” het hy gesê. Die saak is daarna tot 16 Augustus uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)