’N SAAK van roof met verswarende omstandighede teen twee broers van Oudtshoorn is in die streekhof van die hofrol verwyder omdat die klaer en getuies weer nie vir die verhoor opgedaag het nie.
Justin May (24) en Ruan May (22) is daarvan aangekla dat hulle op 13 Augustus 2020 vir Darren Kammies van sy rugsak met R60 se lekkernye daarin beroof het, nadat hulle hom met ’n mes aangeval het.
Die twee beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die staat se versoek vir ’n finale uitstel teengestaan omdat dit duidelik is dat die getuies geen belangstelling toon om met die saak voort te gaan nie.
Justin May was sedert die voorval in 2020 in aanhouding.
Streeklanddros Sylvia Mandla het met Botha saamgestem waarna die staat die klagte teruggetrek het. (Deur Garnett Wicomb)