DIE Mediclinic Klein Karoo het Johnson & Johnson Covid-entstof ontvang en sal nou ook inwoners wat lede is van mediese fondse vir inenting verwelkom.
Inentings by die Mediclinic se vaksien-eenheid sal slegs geskiet nadat mediese fondslede ’n sms ontvang het wat hul daarheen sal verwys.
Mense moet op die EVDS-webwerf geregistreer wees om ’n sms te kan ontvang.
Alle mediese fondse betaal vir die Covid-entstof as deel van “Prescribed Minimum Benefits”. Die koste word dus nie van lede se spaarplanne verhaal nie.
Die vaksien-eenheid is aan die agterkant van die hospitaal geleë – gaan in by die hospitaal se hoofingang vanuit Kerkstraat en ry links buite-om die geboue na agter waar parkering beskikbaar is.
Enstof sal Maandae tot Donderdae van 07:30 tot 15:30 en Vrydae van 07:30 tot 12:00 toegedien word.
Die eenheid sal naweke en vakansiedae gesluit wees.
Almal wat ’n sms ontvang om na die Mediclinic te gaan moet hul identiteitsdokument en mediese fondskaart saambring wanneer hulle opdaag vir ’n inenting.
So sal die proses verloop vir diegene wat daarheen moet gaan:
Stap 1: Registreer op die Departement van Gesondheid se EVDS-webwerf (https://vaccine. enroll.health.gov.za/#/).
Stap 2: EVDS stuur dadelik ’n sms om te bevestig dat u op die stelsel geregistreer is.
Stap 3: EVDS stuur ’n tweede sms om die fasiliteit, dag, tydgleuf en u spesifieke koeponnommer te bevestig.
Let wel: Hierdie proses neem tyd!
Stap 4: Mediclinic Klein Karoo stuur ’n derde sms om u welkom te heet en waarin daar ’n skakel sal wees wat u moet voltooi om sodoende u inligting op hul stelsel te kan registreer.
Stap 5: Mediclinic Klein Karoo stuur ’n finale sms die dag voor u ingeënt word, met die spesifieke tyd van u afspraak.
• Die Covid-entstof is die enigste manier om te keer dat verdere variante vorm en om hierdie pandemie te beëindig. Ons sien uit om die gemeenskap tot diens te wees.
(Inligting verskaf deur Mediclinic Klein Karoo op Oudtshoorn)
Mediclinic Klein Karoo skop af met Covid-19-entstof
Ontmoet die span van die Mediclinic Klein Karoo waar lede van mediese fondse binnekort die Johnson & Johnson-entstof sal kan ontvang. Foto verskaf