“DIE minimum voorgeskrewe vonnis van tien jaar vir verkragting is hopeloos te min vir wat die beskuldigde gedoen het en daarom sal die maksimum vonnis van vyftien jaar meer gepas wees.”
So het staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, verlede week die hof versoek in die saak van ’n 24-jarige man van Dysselsdorp wat daaraan skuldig bevind is dat hy ’n 24-jarige vrou wat aan hom bekend is, verkrag het.
Ruwayne Herman is daarna in die Oudtshoorn Streekhof tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat die hof nie enige buitengewone omstandighede kon vind om van die minimum vonnis van tien jaar af te wyk nie.
Herman het onskuldig gepleit en aangevoer dat die vrou hom toestemming gegee het.
Hy het die klaer die betrokke aand gedwing om saam met hom te stap nadat sy ’n vriendin huis toe geneem het en onderweg was na haar eie huis.
Hy het haar agter ’n huis teen ’n muur vasgedruk, haar mond toegedruk en haar gewurg om stil te bly.
Sy het getuig dat sy haar met al haar krag teëgesit het, maar dat hy daarin geslaag het om haar te verkrag.
Niemand het haar hulpkrete gehoor nie.
Nadat hy haar op die grond neergegooi en ’n tweede keer wou verkrag, het sy hom weggetrap en daarin geslaag om weg te kom.
Herman se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, het betoog dat die vrou minimale beserings opgedoen het, maar toegegee dat die gemeenskapsbelang ’n belangrike rol vir vonnis speel.
Volgens haar het daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die minimum vonnis van tien jaar af te wyk.
Die staatsaanklaer het bygevoeg dat die klaer ’n ma van twee dogtertjies is en sy sedert die voorval bang is vir mans en steeds nagmerries daaroor kry.
Streeklanddros Daniel Boks het Herman se weergawe as vals en leuenagtig bevind en hom tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. (Deur Garnett Wicomb)
“Hy het sy slagoffer in die nek gebyt en voorgegee dat dit ’n “love bite” was, maar die merk waar hy haar gebyt het, is na ses maande steeds sigbaar en verskil van ’n suigmerk.
“Die klaer is steeds kwaad en kan nie vergeet wat met haar gebeur het nie. Sy voel vernederd.” het Boks gesê.
Herman se vorige veroordelings is nie verbandhoudend nie, maar hy het ’n wrede en selfsugtige daad gepleeg, het die landdros gesê.
Herman is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)