Oudtshoorn Gholfklub groet ’n ‘legende’

Die Kanniedode gholfgroep, waarvan Frans Beets sr (foto onder) deel was, het Maandag - die dag waarop hulle weekliks speel - ’n oomblik van stilte vir Beets gehou. Van links is Oosie Oosthuizen, Johan Coetzee (sameroeper van Kanniedode), Pieter Engelbrecht, Leon Gouws, Coenie Coetzee, Celesté Barnard, Gary Hutchings, Niel Truter, Higgo Jacobs en André Theron. (Foto’s verskaf.)

“HY was ’n legende by die klub, baie lief vir die spel én die klub, en almal gaan hom baie mis.”

Dit is hoe lede van die Oudtshoorn Gholfklub Frans Beets sr (78) sal onthou.

Beets, wat sedert die sewentigerjare lid van die klub was en sedertdien jarelank op die bestuurskomitee gedien het, is Sondag, 25 Julie, oorlede.

Volgens sy seun, ook Francois Beets, was sy pa ’n vredeliewende persoon wat nie gehou het van baklei nie, “en het maklik vergewe en vinnig vergeet!”

Nes sy pa se mede-klublede, vertel Beets jr sy pa was mal oor gholf, en het nooit Maandae se spel saam met die “Kanniedode”, ’n groep afgetredenes, gemis nie.

“Dit was vir hom heerlik. Hy gaan baie gemis word. Hy was altyd daar om almal te help,” het Beets gesê. Hy beskryf sy pa as ’n goeie eggenoot en pa, “en sou alles doen vir sy kinders.” Beide Beets jr en sy broer, Naas Beets, was al in die verlede klubkampioene.

Paul Stroebel, klubkaptein, en Ockie Horowitz, ook van die klub, sê hulle sal Beets veral as klubsekretaris onthou. Volgens hulle was hy die mees regverdige sekretaris nog, en kon niemand ooit met Beets stry oor sy besluite nie.

Hulle het ook sy voorliefde vir gholf beklemtoon, dat hy een van die mees toegewyde lede van die klub was, en skerts dat niemand ooit met Beets oor reëls kon stry nie. (Deur Stefan Goosen)