Geen aanrandingsaak teen man wat messteek

Geskokte inwoners van Oudts­hoorn drom verlede Woensdag saam op die taxi-staanplek in Oudtshoorn se middedorp waar ’n vrou verlede Woensdag in die rug gesteek is. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Oudtshoorn Polisie sê ’n man wat Woensdag 21 Julie 2021 ’n vrou by die Oudtshoorn Taxistaanplek in die middedorp na bewering in die rug ge­steek en gevlug het, is nie in hegtenis geneem nie.

Die slagoffer het nie ’n saak teen die man geopen het nie en daarom word geen klagte van aanranding teen hom ondersoek nie.

Die polisie ondersoek wel ’n klag van kwaadwillige saakbeskadiging teen die verdagte nadat hy ’n taxi se ruit stukkend gegooi het.

Met Die Hoorn se aankoms op die toneel verlede Woensdag, het omstanders beweer die vrou en haar vriend het gestry, waarna hy haar met ’n mes in die rug gesteek het.

Hy het na bewering daarna twee taxi’s se vensters met klippe stukkend gegooi voordat hy weggehardloop het.

Die vrou is per ambulans hospitaal toe geneem. (Deur Stefan Skapie Goosen)