Munisipaliteit het slegs ’n mandaat om ’n skut te bedryf

Foto: Die Hoorn argief

DIE burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, sê hy het die Wes-Kaapse Minister van Landbou, dr Ivan Meyer, versoek om ’n ondersoek te doen na die situasie by die munisipale skut en die betrokkenheid van dierewelsynorga­nisasies by die skut.

Munisipale skutte val nou onder dié minister.
Macpherson het Vrydag (23 Julie) by ’n pers­konferensie gesê daar word al baie jare lank nie altyd op Oudtshoorn onderskei tussen die munisipale skut wat ’n funksie is van ’n munisipaliteit, en “kennels” waar diere sonder ’n heenkome versorg word nie.

Hy sê die munisipaliteit het slegs ’n mandaat om ’n skut te bedryf wat ’n tydelike heenkome kan bied vir diere, plaasdiere ingesluit, vir ’n tydperk van sewe dae.

Die munisipaliteit het dus nie ’n mandaat om “kennels” te bedryf waar diere op langtermyn versorg word nie.
Macpherson het met die plaaslike pers gepraat in reaksie op ’n plasing van die dierewelsynorga-nisasie Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) verlede week (Woensdag 21 Julie) op Facebook dat hulle verbied is om verder saam met die munisipale skut te werk.

Hy sê in die lig van die munisipaliteit se mandaat maak dit hom bekommerd wanneer hy hoor mense sê hulle het gehelp of was betrokke by die insameling van items soos kos, komberse en geld vir spesifiek die munisipale skut. Dit is vir hom belangrik dat die munisipaliteit nie buite wetge­wing optree nie.

“Volgens my personeel is daar tans net drie honde wat deur die munisipaliteit geskut is en meer as sestig honde van ’n dierewelsynorganisasie by die skut. Daar is ook ’n paar beeste, skape en donkies.”

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor veearts­rekeninge wat die munisipaliteit ontvang het vir byna elke dag in Junie.

“Ons mandaat is nie om diere wat geskut word elke dag van die maand veearts toe te neem nie,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat hy ’n inisiatief vir die oprigting van ’“kennels” vir die versorging van diere sonder ’n heenkome op Oudtshoorn sal verwelkom, maar dat die munisipaliteit nie so ’n gerief daar kan stel of bedryf nie.

Munisipale skut skuif nie meer nie
Macpherson het ook aangedui dat die munisipale skut nie meer na ’n terrein in die nywerheids­gebied sal skuif nie omdat dit daar moeilik sal wees om diere soos skape, beeste en donkies aan te hou nadat hulle geskut is.

Die skut bly op sy huidige terrein langs die Rooiheuwelpad. ’n Aparte kantoor is reeds by die huidige hondehokke aangebou en nog verbeterings sal gedoen word.

Die munisipaliteit beoog voorts om die skut voortaan self met sy huidige personeel te bestuur, en nie meer ’n organisasie aan te stel om die skut te bestuur soos voorheen beoog is nie.

Hy sê hoewel daar al drie keer voorheen tenders geadverteer is vir die bestuur van die skut, was daar met die mees onlangse tenderproses geen aansoek wat aan die vereistes voldoen het nie.

Die drie huidige personeellede van die skut sal eersdaags opleiding as wetstoepassers ontvang sodat hulle sal kan optree wanneer wetgewing oortree word.

Colleen Smith van ODIN het Dinsdag aangedui dat die organisasie nie gaan reageer op navrae nie en dat ODIN regsverteenwoordiging het wat die koerante en burgemeester sal kontak vir inligting. (Stefan Skapie Goosen en Liesel le Roux)