Vonnisverrigtinge van oud-polisieman uitgestel weens Covid

DIE vonnisoplegging van ’n voormalige poli­sie­beampte van Oudtshoorn wat op 200 klagtes van die besit van kinderpornografie skuldig bevind is, moes verlede Woensdag uitgestel word omdat die hofgebou vir twee dae gesluit was as gevolg van ’n Covid-19-geval.

Dale Mackintosh (64) het onskuldig gepleit op al die klagtes.

Hy het in sy pleitverduideliking erken dat hy foto’s van kinders op sy rekenaar afgelaai het, maar nie bewus was dat hulle minderjarig was nie.

Volgens hom wou hy die foto’s vir navorsing gebruik.

Streeklanddros Daniel Boks het sy getuienis verwerp.

Volgens die landdros was die meeste fotos dié van seuns en afskuwelik en grusaam.

Die beskuldigde het self erken dat van die foto’s walglik was.

Hy is ’n eerste oortreder.

Volgens die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, is die korrektiewe verslag soos aangevra deur die verdediging reeds ontvang, behalwe vir ’n moniteerbare adres vir die beskuldigde.

Die saak is finaal vir vonnis tot 10 Augustus uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)