DIE vier verdagtes in die transitoroofsaak aan wie borgtog geweier is, het Maandag 18 Oktober weer vlugtig in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Die saak is tot 19 November uitgestel omdat daar gewag word vir sekere verslae.
Simphiwe Matwa (41), Lwandiso Lento (36), Masixole Dolomba (27) en die weermagkaptein Sakhele Nkabi (36), almal van George, staan tereg op klagtes van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie asook die onwettige besit van ’n ongemagtigde vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is.
Die saak spruit uit ’n voorval in Julie vanjaar toe ’n sekerheidswag by ’n vulstasie in Bridgton van sy vuurwapen en ’n groot bedrag geld beroof is.
Die staatsaanklaer, advokaat MP Heyns het met die vier se borgaansoek die hof meegedeel dat dit tussen twee en drie maande sal neem om die DNS, vingerafdrukverslae en selfoondata te bekom. (Deur Liesel le Roux)