Briewe van lesers

Wie het opdrag vir aanstelling gegee?

DIE media wemel van berigte oor die Valke wat op die Oudtshoorn Munisipaliteit toegeslaan het en ’n senior amptenaar wat geskors is oor die aanstelling van Webber Wentzel-prokureurs.

Dit gaan oor die feit dat die firma nie op die munisipaliteit se databasis is nie en onnodige uitgawes wat vlieg- tuigkaartjies, hotelverblyf en vervoer insluit.

Hierdie is die belastingbetaler se geld en is dit dus nodig om vas te stel wie opdrag vir die aanstelling gegee het sodat optrede gevolg kan word. Die amptenaar het seer sekerlik net die instruksie uigevoer wat van ’n raadsbesluit of die burgemeester gekom het. Een van die partye is dus die skuldige.

Wanneer die Valke hiermee klaar is, moet hulle ook sommer die aanstelling van die Oos-Kaap-prokureursfirma wat deur die 13 raadslede aangestel is, ondersoek, want ook hulle is nie op die munisipaliteit se databasis nie en hul betrokkenheid is al voorheen bevraagteken. Ook in hierdie geval moet die raad en burgemeester aangekla en die geld terugbetaal word.

Die vorige burgemeester, Macpherson het ’n mooi voorbeeld gestel deur ’n plaaslike regsfirma wat op die databasis is, aan te stel. – Krulkop Politikus