Nasionale minister besoek kwarantynperseel by Infanterieskool

Kwarantyntente van die Infanterieskool wat 500 mense kan huisves.

DIE nasionale minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het Oudts­hoorn Maandag besoek om haarself te vergewis van die vlak van gereedheid van die Covid-19-kwarantynperseel by die Infanterieskool op die dorp.

Mapisa-Nqakulais besoek tans landwyd kwarantynpersele by weermagbasisse.

Kwarantyntente wat 500 mense kan huisves en waar mense veilig kan isoleer, is op die basis opgerig.

Sy het aan SABC-nuus gesê die geriewe sal ook aan die publiek beskikbaar gestel word as die plaaslike gesondheidsfasiliteite op die dorp oorweldig word.

“Ek het Oudtshoorn gekies omdat dit die kern van ons uitnemendheid is, waar ons soldate se loopbane in die weermag begin,” het sy gesê.

• Oudtshoorniete se nuuskierigheid is Maandag­oggend geprikkel toe twee vliegtuie met ’n hoëvlakse SANW-afvaardiging op die Oudtshoorn Lughawe geland het, en die insittendes met twee groot konvooie na die Oudtshoorn Infanterieskool vertrek het.

Hoewel Die Hoorn nie-amptelik inligting ontvang het dat die minister een van die besoekers was, kon ons nie daarin slaag om die dag bevestiging van die weermag te verkry nie.

Om ongeveer 14:00 egter het die Facebook-blad van die SA National Defence Force verskeie foto’s geplaas van die minister se besoek aan die Infanterieskool. (Deur Stefan Skapie Goosen)