Krag Sondag weer af vir herstelwerk

DIESELFDE dele van Oudtshoorn wat op Moe­dersdag sonder krag was, se krag sal Sondag 24 Mei 2020 weer afgeskakel word vir nog belangrike noodherstelwerk.

Op Moedersdag is een van Eskom se 22 kV-voer­ders herstel. Die komende Sondag sal ’n 22 kV-stroombreker herstel word wat die Bridgton-substasie voed.

Die stroombeker het volgens ’n persverklaring van die munisipaliteit verlede jaar gebreek en kan nou herstel word nadat die munisipaliteit se versekering die eis vir die herstel uitbetaal het.

Die krag sal tussen 08:00 en 16:00 afgeskakel word.

Die dele van die dorp wat hierdeur geraak word, is gebiede noord van Voortrekkerweg (Oudts­hoorn-Noord, Wesbank-Noord en Matjiesrivier), en gebiede oos van Springbokweg (Bridgton, Smartietown, Bongolethu (alle dele uitsluitend die nuwe uitbreiding en die Vaalhuise), Toekoms­rus, Rosebank en Rosevalley).

Dysselsdorp en De Rust sal nie deur die kragonderbreking geraak word nie.