Reinecke saam met Nicky en Dani tydens ’n uitstappie in die berge by Ladismith.
Reinecke op die hoogste piek van Tiquimani in die Andes-gebergtes in Bolivië. Die piek is 5608 meter hoog.
DANIEL ROBERT REINECKE is op 25 Mei 1930 as een van ’n tweeling in Oranjezicht, Kaapstad, gebore. Sy twee-lingsuster, Colette Scholtz, wat twee ure vroeër om 12:00 gebore is, het hom gereeld herinner: “Bobbie, remember I am older than you.”
Sy pa, Ulrich Oscar Gottlieb Reinecke, was ’n bekende tandarts in Kaapstad en hy het altyd gesê: “Bobbie, jy hou nooit op met praat nie; selfs in jou slaap praat jy!” Sy vrou, Chrissie, kan dit staaf!
Hy raak op 13 jaar by die SAUK betrokke en verdien sakgeld as die kinderstem in Afrikaanse radioverhale. Hy matrikuleer in 1946 aan die Hoërskool Jan van Riebeeck en begin daarna werk by National Mutual of Australasia in Kaapstad. Sy grootste ambisie en begeerte was om ’n graad te behaal en hy registreer vir “nagskool” om die graad B Com te verwerf.
Terselfdertyd het hy elke Sondagaand vanaf 18:00 tot 04:00 vir I&J “visse op die dokke getel”.
In 1951 het hy sy loopbaan by Union Castle in die rekeninge-afdeling begin en is hy na Londen verplaas. Hier het hy graag musiekkonserte, operas, balletkonserte en teateruitvoerings bygewoon en deur Europa gereis. Hy het in 1954 teruggekeer na Suid Afrika.
Ná sy terugkeer het Union Castle deel geword van Springbok Shipping Co wat later weer deel geword het van die bekende Safmarine. Hier hy het die leer van sukses geklim tot by risikobestuurder waartydens hy die wêreld platgereis en baie bekende én sluwe mense ontmoet het. Hy was ’n beken-de gesig by Lloyds of London en het Safmarine se vloot se versekeringseise hanteer en skeepsongelukke ondersoek.
In 1964 behaal hy die graad BA en in 1970 ’n MBA aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Deur sy beroep is sy belangstelling in oliebesoedeling geprikkel en was die titel van sy verhandeling: Verslag van die Kommissie van Ondersoek na die beheer oor klein vaartuie om die Suid-Afrikaanse kus.
Gedeeltes hiervan is in die Skeepvaartwet opgeneem. Hy het in daardie stadium by die Maritime Law Society betrokke geraak as die enigste nie-praktiserende advokaat/prokureur.
Hy is in 1961 met Pandora Reinecke getroud. Twee pragtige dogters is uit die huwelik gebore – Dani in April 1974 (tans in Nieu-Seeland) en Nicolette in September 1976 (tans in Kaapstad).
In 1990 gaan hy ná 40 jaar diens by Safmarine met pensioen. Hy koop sy plaas, Die Meul, in Ladismith waar hy met amandels begin boer. Hy raak gou betrokke by die gemeenskap en die Klein Karoo. Hy word verkies tot voorsitter van die Landelike Raad van Kannaland en verteenwoordig Ladismith ’n paar jaar later sowat vyf jaar lank in die Distriksraad. In hierdie tyd sien hy die nood van die Dankoord Skool raak. Hy ry eers vir hulle water aan en oortuig later die staat om saam met hom die Dankoord-waterskema aan te lê vir drinkwater en toilette by die skool. Die water is met ’n pyplyn van sy plaas tot by die skool gepomp en langs die lyn is aftappings vir werksmense se huise gedoen.
Sy betrokkenheid by die gemeenskap het hom baie gewild en bekend gemaak en hy het by die politiek betrokke geraak. Met die verkiesing van 2012 was hy die voorsitter van die DA in Kannaland.
Hy het ook sowat twee jaar lank in Agri Klein Karoo se raad as addisionele lid gedien en Agri Wes-Kaap se landboukongres in Kaapstad vanaf 1987 elke jaar bygewoon as verteenwoordiger van Ladismith se landbouvereniging.
En hy het altyd gesorg dat hy ’n spreukbeurt kry!
Bob was altyd besig met gemeenskapswerk waarvoor hy geen finansiële vergoeding ontvang het nie. Hy is saggeaard, hulpvaardig, taktvol en vol empatie vir sy medemens, of soos hy homself beskryf: “’n ware gentleman…” wat steeds op 90 jaar die motor se deur vir sy vrou oop- en toemaak!
Hy was vyf jaar lank voorsitter van die ouetehuis, Huis Izak van Tonder, op Ladismith, en het as “prison visitor” in Ladismith gewerk waar hy die gevangenis besoek en klagtes en nood met toewyding opgevolg het.
In 2012 het Bob agter die liefde aan getrek toe hy op 82 met Chrissie getroud is. Hulle gaan woon op Calitzdorp, waar hulle die historiese Mossiehof wat afgebrand het, gekoop en gerestoureer het.
Ook op Calitzdorp kon hy nie stilsit nie en het betrokke geraak by die plaaslike toerismekantoor en as vriend bestuurs- vergaderings bygewoon, asook die GPF-vergaderings. Hy het egter ná drie jaar besluit om af te skaal daarmee en het ook sy politieke betrokkenheid begin verminder nadat hy en Zelda Jongbloed die DA aan bewind gekry het in Kannaland deur met die ANC saam te werk.
Bergklimgeskiedenis: Bob, wat in 1959 by die Bergklub van Suid-Afrika aangesluit het, is verlede jaar met ’n toekenning van 60 jaar-lidmaatskap en lewenslange lidmaatskap vereer. Sy inisiatief en deursettingsvermoë het hom betrokke laat raak by die reddingswerk van die Bergklub.
Praat jy met Bob oor bergklim praat hy al hoe vinniger soos die avonture afspeel en verduidelik met sy hande. Hy het Afrika se hoogste berg, Kilimanjaro, drie keer geklim. Een keer, in 1961, het hy en Malcolm Griffin in die krater geslaap en daar en dan besluit dat hulle ’n ekspedisie na Suid-Amerika gaan onderneem. In Kenia het hulle Mount Kenia, die tweede hoogste berg in Afrika, se twee hoogste pieke – Batian (5199 m / 17057 vt) en Nelion (5188 m / 17021 vt) – aangedurf. Niks kon Bob stuit nie.
Ná twee jaar se intensiewe beplanning het die eerste ekspedisie – ses mans van die Wes-Kaap en een van Chili – na Suid-Amerika vertrek. Bob was die leier van dié eerste Suid-Afrikaanse internasionale bergklimekspedisie. Die oogmerk was om Tiquimani – 18400 vt – in die Andes in Bolivië te klim en Suid-Afrika se vlag op die piek te laat wapper. Op soek na nog avontuur het hulle in die daaropvolgende twee weke ook ander sneeubedekte pieke in die Andes aangedurf. In 1964 gaan Bob terug en klim Illiampu (19 680 vt).
Ná die Ancash-aardbewing in Peru op 31 Mei 1970 het die lede van die Tiquimani-ekspedisie besluit om hulp te verleen. Ná konsultasie met die konsulaat van Peru het Bob met die ondersteuning van die SAL dokters, verpleegpersoneel, toerusting en kos na Suid-Amerika gestuur. Dr Robin Sandell (lid van die Tiquimani-ekspedisie) is saam. Bob het hierna ere-burgerskap van Peru ontvang.
Sy liefde vir die berge was sy motivering om mede-eie-naar te word van Towerkop by Ladismith en Steenslangberg, wat die hoogste bergpiek in die Wes Kaap is.
Buitelug, fietsry, bergklim, fiksheid, gesond eet en natuur-lik ’n baie groot algemene kennis was nog altyd Bob se motto wat hom op 90 steeds sterk,waaghalsig en interessant maak.
