Poem Mooney skryf oor die legendariese Oupa Lappies en deel ook gedigte wat hy oor hom geskryf het.
MY pa is op De Rust gebore. Sy ouers het albei hul lewens verloor tydens die griep van 1918.
Op dieselfde dorpie het ’n paar vanne opgeduik wat miskien die moeite werd sou wees om intensief na te vors: Mooney, McKenna en Griffen.
Op Klaarstroom het die volgende vanne my aandag getrek: Harding, Benn, Mooney, McClune, Schoeman, Griebelaar en Rabie.
Op Prins Albert het die volgende vanne baie beslis my aandag getrek, juis omdate ek myself en my komvandaan-geskiedenis in baie van hierdie vanne kon raaklees in die huweliksregister van die NG Sendingkerk, nou die VGK Prins Albert. Vanne soos Balie, Bietou, Mcpherson, Willemse, Davids, Lawrence en Stuurman. En natuurlik ken ons buin en swart Stuurmans ook, vanne wat verbuig is tot Stuhrman.
Iemand het my op ’n keer gevra om iets te skryf oor die kleurryke geskiedenis uit die volkslewe van Prins Albert se mense. Sommer net ’n paar mooi stories, het die persoon verder opgemerk, al is dit oor iemand, ’n man, ’n vrou of ’n spesiale karakter.
Ek het deur die bestaande familie-name gekyk en toe besluit om ’n storie te skryf oor die Lappiesman van Prins Albert, juis omdat ons hier die woord kleurryk gebruik het. Ek het sommer van meet af geweet: hierdie eie storie van Outa Lappies Schoeman is ryk aan vorm en kleur.
Van die begin af het ek geweet iets van die name en plekke wat aan hom gekoppel was en die noem- en doen-dinge waarmee hy hom besig gehou het, het hom uitgesonder as iemand met ’n spesiale komvandaan-geskiedenis.
Die ander name en vanne het ek gelys sodat ons behoorlik genealogiese navorsing kan doen oor die families by die Potskerf
Inheemse Navorsingsentrum. Dit sal die families help om dieper te kyk na hul herkoms; om hul inheemse stamlyne beter te verstaan.
Ek het die Schoemans geken lank voordat ek Outa Lappies leer ken het. Antie Annie Melune van Klaarstroom was ’n nooi Schoeman. Natuurlik is daar ook “wit Schoemans”, maar dit sal uitkom in die navorsing. Of dié navorsing egter belangrik gaan wees vir die mense van Suid-Afrika, sal ons nooit weet nie.
Wat wel belangrik vir myself is, is dat genealogie soms die moeder van geskiedenis genoem word, omdat dit bestaan uit die opgetekende geslags-lyste en omdat dit deel is van die oudste historiese dokumente.
Outa Lappies het die vermoë gehad om verse te skryf. Hy het ook die gawe besit om stories te skryf en te vertel. Die meeste van sy stories het hy op lap geborduur.
Hy was ’n kunstenaar in eie reg!
Outa Lappies was altyd ’n trekpleister by die KKNK op Oudtshoorn. Die selfgemaakte rieksja het die kinders se verbeelding aangegryp. Dit was vir ons asof hy en sy karavaan een geword het as hy kunstefeeste op sy bedevaartsreis was op pad na die
Klein Karoo, met Oudtshoorn as die hoofsetel.
Hier het hy baie vriende gemaak, het hy ’n baie goeie netwerk opgebou, met onder andere kunstenaars hier ter lande asook uit die buiteland. Hy het altyd met trots verwys na die tydskrifte en koerante waarin hy aangehaal is as die unieke legende van die Karoo.
Ons (my gesin) het graag vir hom gaan kuier op Prins Albert en spesifiek by Botterkraal waar hy hom in die later jare gaan vestig het.
Sy ontydige dood het ons almal ge-raak. Erens op ’n woonerf op Prins Albertstasie staan sy rieksja. In die museum op Prins
Albert sy borduurwerk. En sy stories met die simboliek wat hom eintlik ’n uitsonderlike karakter gemaak het.
Op Botterkraal tussen Prins Albert en die stasie, sny die ou pad tussen die opstal en die buitegeboue deur. Daar lê twee kulture se geskiedenis – die van die vorige eienaars en die geskiedenis van Outa Lappies, kunstenaar, koning, historiese ikoon.
Outa Lappies
Op ’n poskaart van Prins Albert langs ’n windpomp
sit Outa Lappies op sy rieksja
’n selfgemaakte troon
Sy eretitel sonder spot of hoon, maak hom
’n koning, kunstenaar, historiese ikoon.
Sy nederige houding spreek integriteit
Sy uitsonderlike kleredrag, uniek,
maak hom ’n grondbaron, ’n sjeik
simbool van trots
die vlam van leierskap straal uit sy oë
onwankelbare rots is hy
Jan Schoeman uit die Groot Karoo
Sy komvandaan, Prins Albert –
uit hierdie lap is hy gesny
die Koup, Tankwa, Moordenaars
die Klein Karoo
die Ceres, wat hy so graag deurreis het
Met sy karavaan in solo-bedevaart
Selfs op die trappe van die parlement
waar hy vir volk en vaderland moes staan
het hy homself met waardigheid gehandhaaf
Die vlam van leierskap het hy altyd met
hom saamgedra, beskaaf sy saak gestel
die wakker vonkel in sy oë
Jan Schoeman,
legende uit die Groot Karoo
Die ou pad (’n uittreksel)
Die ou pad tussen Prins Albert en die stasie
sny deur die opstal en buitegeboue by Botterkraal
Hier het Outa Schoeman sy laaste lewensdae geslyt…
en in simbiose met God
en die natuur,
sy stories op lap en kleed geborduur
Ek mis die shrine met sy Kersliggies,
in die vakkies met gekleurde glas,
wat soveel mense na hom toe aangetrek het,
hier op Botterkraal
sy Sanctum Sanctorium
Mense van oral en ander wêrelddele
het kom kyk na hierdie plek
joernaliste, kunstenaars,
beeldhouers, toeriste
selfs hulle wat kon dig en skryf,
en lekker stories maak soos hy