Wat is ’n ‘kwotaspeler’?
Wat is ’n “kwotaspeler’? Dit is ’n term wat die ANC-regering uitgedink het. Dit is beslis nie ’n apartheidsterm nie. Die regering en die rugbyraad “bepaal” hoeveel spelers van elke kleur in Suid-Afrika in ’n span moet speel. Deur so ’n besluit te neem beteken dat, in hierdie stadium ná 25 jaar se sogenaamde demokrasie, spelers wat nie wit is nie, “kwotaspelers” genoem word.
Derhalwe was Ashwin Willemse, volgens die definisie van die regering, ’n “kwotaspeler” en sal elke rugbyspeler van ’n ander kleur as “kwotaspeler” gebrandmerk word, selfs al is hulle die beste.
Het Bryan Habana hom gesteur aan die “kwotaspeler”-etiket? Nee, hy het sy rugby gespeel volgens die beste van sy vermoë. En hy was die beste.
Teen die tempo waar daar nou na “kwotaspelers” gesoek word om aan die demografie van die land te voldoen, sal daar binnekort gesoek word na een wit “kwotaspeler”, net om die persentasie van die demografie te verteenwoordig.
Dit sal beteken, as ek my somme reg maak, dat daar een wit speler in die Springbokspan sal moet wees. Hy gaan dan ’n “kwotaspeler” wees.
Die politiek van Suid-Afrika maak van hom ’n kwotaspeler en hy moet dit aanvaar, of hy moet gaan jukskei speel. So eenvoudig soos dit.
So, waarom Ashwin, die agbare voorbarige minister van sport en die verlore seun van die ANC se vakbonde, mnr Ehrenreich, so gal braak, is onnodig en onverstaanbaar.
Dit is goedkoop publisiteit wat hulle soek. Hulle doen niks positiefs nie, maar wil gehoor word.
Wat is antwoord?
Los en vergeet van die woord kwo-taspeler! Kies die beste speler, al is hy ’n Japannees wat in Suid-Afrika woon.
Ons wil wen – nie na ouvrou-klaagliedere luister nie.
Dankie, Beast! Jy is ’n yster en het jou nog nooit aan politiek gesteur nie. Jy is ’n voorbeeld vir elke rugbyspeler in Suid-Afrika, want jy karwei nie die las van die woord “kwotaspeler” nie!
Ashwin Willemse sal nie onthou word vir die puik rugby wat hy vir die Springbokke gespeel het nie, maar as ’n klakous wat nie sy kant van die saak gestel het toe hy die geleentheid gehad het nie.
Die ironie is dat ek, as ’n wit man, ’n “kwota-tenderaar” word as ek met die staat wil besigheid doen. As ek nie daardie “kwota”-etiket wil dra nie, moet ek ophou kla en my eie werk skep.
– Johan Wagener, Oudtshoorn