’n Daaglikse ete vir kinders

DIE sopkombuis van Phillip en Susanna Seroux op Oudtshoorn is nie net ’n plek waar sop uit­gedeel word nie.

“Ons het begin met sop maar vir langer as ’n maand al gee ons elke dag van die week ’n maaltyd aan tussen 100 en 150 kinders van die Polisie­hoogte-omgewing. Ons leer ook die kinders van sosiale distansiëring, om hul hande gereeld met seep en water te was, asook die gevare van die virus,” sê Phillip Seroux.

Volgens hom is dit hul verantwoordelikeheid om na die kinders se gesondheid om te sien. Hy het goedkeuring vir die sopkombuis en hou by die regulasies van die Covid-19-inperking.

Die projek het pas ’n hupstoot gekry met ’n skenking van brood vir sewe weke nadat Moos Williams van MMLL-Transport, verspreider vir Sasko op Oudtshoorn, ingestem het om elke Dinsdag 20 brode te skenk.

Seroux sê om die projek volhoubaar te maak is dit noodsaaklik om skenkers te kry omdat hy self werkloos is. “Ek is baie dank verskuldig aan ’n groot aantal persoonlike vriende wat hul hande in hul sakke steek vir die projek asook ’n paar besighede. Ons dank die Here want dit is Hy wat alles moontlik maak,” sê Seroux.

Seroux het ook ’n spesiale woord van dank aan Franzu Badenhorst van Famsa Karoo gerig wat daagliks by die sopkombuis help. (Deur Garnett Wicomb)