HY het niemand voor of agter die bakkie gesien voordat hy ingeklim het om te ry nie, en ook nie toe hy die bakkie se ligte aangeskakel het nie. Toe hy egter vertrek, het hy gevoel hy ry oor iets en onmiddellik stilgehou om te kyk wat dit was.
So het Johnny Donson (38) Vrydag (30 April) in die Oudtshoorn Streekhof onder kruisverhoor getuig in die saak waarin hy van moord en die versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen, aangekla word.
Donson word daarvan aangekla dat hy die aand van 5 Januarie 2018 glo drie keer oor ’n man in Swawellaan, Bridgton gery en daarna van die toneel weggery het. Hy pleit onskuldig.
Die 43-jarige Ricardo “Carthy” Fourie het ’n paar dae na die voorval in die Grootte Schuur Hospitaal in Kaapstad aan sy beserings beswyk.
Volgens Donson was daar ’n klompie kinders agterop die bakkie toe hy wou ry en het hy hulle probeer verwilder. Hy het, nadat hy stilgehou het, die oorledene agter die bakkie sien lê en meen dat hy voor die agterwiele moes gelê het. “Alles het so vinnig gebeur,” het Donson gesê.
Hy ontken die getuienis van drie ooggetuies, Bevedine Britz, Leano le Roux en Johan Stuurman, dat die oorledene ’n ent voor die bakkie in die pad gelê het. Volgens hom het hy die bakkie se ligte aangeskakel en niemand voor in die pad gesien nie. Hy het erken dat hy ’n bier in sy hand gehad en weggery het toe mense hom begin vloek en skel het.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het dit aan Donson gestel dat hy nie die oorledene sou getref het indien hy reguit vorentoe gery het nie. Britz sowel as Stuurman het getuig dat Donson oor die oorledene gery het, agteruit oor hom gery en weer vorentoe oor hom gery het.
Streeklanddros Ntoski Moni wou van Donson weet waarom hy nie reguit na die polisiekantoor gery het om die ongeluk aan te meld nie. “Ek het groot geskrik en nie vinnig gedink nie, maar vroeg die volgende oggend na die polisie gegaan,” het hy gesê.
Die saak is vir slotargumente tot 21 Mei uitge-stel. Donson is op borgtog vrygelaat. (Deur Garnett Wicomb)