’N ENTREPRENEUR sien ’n sakegeleentheid raak en benut dit tot sy voordeel. Hierdie beskrywing pas Ladismith se “roosterkoek-ambassadeur”, Melinda (Lolla) Hendricks, soos die spreek- woordelike handskoen.
Sy vertel dat die idee om roosterkoeke te verkoop sowat vyf jaar gelede by haar wederhelfte, Cornil, posgevat het. Vir haar was dit ’n moontlike manier om ook haar deel tot die huishouding se inkomste by te dra.
Nadat Melinda aan die idee gebyt het, het Cornil die plaaslike Agrimark-bestuurder, Marius Brewis. genader om toestemming vir hul huidige staanplek te kry. Die rede vir dié spesifieke staanplek was dat dit langs die beroemde kaasverkoper van Ladismith sou wees, en ook op die besige R62-roete.
Wat as ’n groot waagstuk beskou is, is vandag ’n alombekende gesig oor naweke en vakansiedae langs die verbyroete na Oudtshoorn en Kaapstad.
“Wat was daar om te verloor indien dit nie suksesvol sou wees nie?” vra Melinda. Sy antwoord haar eie vraag: “Moontlik net die geld vir die aankope van die gazebo, maar die kon ons mos maar aanwend vir eie gebruik!”
Melinda vertel dat sy in Anita de Wee, haar helper, ’n getroue bondgenoot gevind het.
Terwyl die gesprek met Melinda, of Lolla soos sy algemeen bekend staan, plaasvind, staan die klante nader.
Een van hulle, Winston Opperman, ’n afgetrede skoolhoof van Zoar, vertel dat hy elke naweek genoeg roosterkoek hier koop omdat dit die beste roosterkoek in die omgewing is.
Gerrit le Roux, ’n plaaslike gastehuis-eienaar, vertel dat hy baie reis en in die Oos-Kaap ook al heerlike roosterkoeke gekoop het, maar beslis nie so lekker soos Melinda se roosterkoeke nie.
Op haar beurt sê Melinda dat sy ook deur die streng Covid-inperking geaffekteer is, maar sy klink selfversekerd wanneer sy noem dat ’n entrepreneur bewus moet wees dat daar altyd risiko’s bestaan.
“Ek pas ook gereeld my spyskaart aan om altyd ’n kortkop voor my mededingers te bly.”
Dit is duidelik dat hierdie vrou haar talente uitleef en ook goeie menseverhoudings handhaaf. ’n Stop by hierdie roosterkoekstalletjie sal beslis vir kosliefhebbers tot ’n volgende besoek lei. (Deur Deon Meyer)
Ontmoet Kannaland se roosterkoek-ambassadeur
