Meer as 1 000 rekrute op Oudtshoorn

MEER as 1 000 jong rekrute van regoor Suid-Afrika het op 3 Januarie op Oudtshoorn aan­ge­kom.

Dié groep is deur middel van die Militêre Vaar­digheidsontwikkelingstelsel gewerf met die verjonging van die SANW ten doel.

Die jong mans en vroue wat uit nege provinsies kom, het suksesvol aansoek gedoen en ook aan die minimum vereistes om by die weermag aan te sluit voldoen.

By die Infanterieskool op Oudtshoorn is hulle verder aan streng toetse en mediese ondersoeke onderwerp om te verseker dat hul in aanmerking kom vir die 2020-inname.

Die waarnemende RSM (regimentele sersant-majoor) van die Infanterieskool, senior adjudant-offisier Anthony Felix, het die rekrute gewaarsku dat hul uithouvermoë, volharding, karakter en dissipline oor die volgende maande getoets gaan word.

Die nuwe rekrute is op Vrydag 17 Januarie deur die hoof van die SANW Korporatiewe Dienste, genl maj Tembelani Xundu, formeel verwelkom as deel van die “Pride of Lions”.

Xundu het in sy toespraak na die goeie verteenwoordiging van vroulike kandidate verwys.

Volgens hom is dit nog ’n voorbeeld van die regering se onderneming om gelyke regte te verseker wanneer dit by geleenthede vir Suid-Afrikaners kom.

“Ek wens elke rekruut voorspoed toe vir hul toekomstige militêre loopbane,” het Xundu afgesluit. (Deur Angelique Erasmus)