DIE Oudtshoorn Munisipaliteit doen wel instandhouding by die NA Smit Swembad, lui ’n antwoord wat Die Hoorn van Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die munisipaliteit, ontvang het nadat die operasionele bestuurder van Eden Tweekamp, Dave van der Walt, verlede week sy kommer uitgespreek het oor die toestand van die swembad.
Volgens die skrywe van Mangqwengqwe is daar fondse beskikbaar wat doelgerig aangewend word om instandhouding te doen, maar is dit nie voldoende vir alle vervangings of herstelwerk nodig nie.
“Daar is fasiliteite wat enorme bedrae benodig vir die herstel of vervanging, maar dis soms onmoontlik omdat sodanige fondse ontbreek,” lui die skrywe.
Die volgende terugvoer is ook ontvang:
• Daar word voortdurend gedurende en voor die seisoen gekyk dat die waterkwaliteit na wense is.
• Die munisipaliteit het positiewe terugvoer ontvang van die organiseerders van ’n gala wat op 21 Januarie 2020 gehou is. Organiseerders betrokke by verlede week se tweekampproewe het ook met lof gepraat oor die waterkwaliteit.
• ’n Versekeringsproses is tans aan die gang ten opsigte van die sinkdak van ’n pawiljoen wat in Oktober verlede jaar afgewaai het. Daar is nie addisionele fondse beskikbaar om dit te vervang nie.
Mangqwengqwe sê die munisipaliteit is ten spyte van al die uitdagings trots daarop om voortdurend funksies te huisves, “wat bevestig dat ons wel die beste fasiliteite het”. (Deur Liesel le Roux)
Instandhouding by swembad vind wel plaas, sê munisipaliteit
