2020 se KKNK bekend gestel

Aan die woord by die bekendstelling van vanjaar se KKNK is heelbo van links Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, en Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, tweede ry van bo die KKNK-vereerdes David Piedt (links) en die aktrise Anna-Mart van der Merwe saam met die artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, Hugo Theart, en bo luister die algemene bestuurder van Kunste Onbeperk, Lizane Basson, en Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die munisipaliteit, na die sprekers. Foto’s: Hans van der Veen

KAARTJIEVERKOPE vir vanjaar se KKNK vorder fluks, het Hugo Theart (artistieke direkteur) van Kunste Onbe­perk Vrydagaand by die bekendstelling van vanjaar se feesprogram op Oudts­hoorn gesê.

Theart het Oudtshoorniete aangemoe­dig om van vandeesweek se spesiale Kuierbuurt-aanbod gebruik te maak waartydens inwoners dié weekkaartjie vir slegs R200 kan koop.

Van die hoogtepunte die aand was die oorhandiging van die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking aan die aktrise Anna-Mart van der Merwe, en ’n inspirerende en roerende toespraak van dr David Piedt waarin hy vertel het hoe die KKNK sy lewe beïnvloed en verander het.

Piedt is reeds vroeër vanjaar by die fees se bekendstelling in Kaapstad deur die KKNK met die Kunste Onbeperk-prys vir sy bydrae tot die KKNK vereer.
Volhoubaarheid ’n fokuspunt.

By Kunste Onbeperk se jaarvergade-ring Vrydagmiddag het teenwoordiges ge­hoor van die harde werk wat die afgelope twee jaar deur die direksie gedoen is om die KKNK se volhou­baar­heid te verseker.

Volgens Crispin Sonn, direksievoorsitter van Kunste Onbeperk, het hulle die afgelope twee jaar baie tyd spandeer om die volhoubaarheid van die KKNK te ver­seker.

“Dit is ’n moeilike tyd vir feeste, want borge oral is onder druk.”

Volgens Sonn het die direksie die afgelope twee jaar onder die leiding van Johannes van Niekerk, een van die direk­- sielede, deur ’n gefokusde projek baie dieper insig gekry in wat suksesvol en winsgewend is en wat nie, asook presies waarheen en na wie die geld gaan wat deur die fees geïn word.

“In die geskiedenis van die fees het ons nooit regtig geweet wat wins maak of verliese ly nie.

“Ons is nou in ’n posisie waar ons baie beter as ander feeste geposisioneer is om te weet wat volhoubaar is.”

Hy het gesê Kunste Onbeperk kan nou na borge gaan met dié belangrike inligting en dit ook voortaan op ander wyses gebruik om projekte uit te bou.

“Ons het byvoorbeeld die eerste keer in vyf en twintig jaar uiteindelik insig hoe­veel die fees finansieel vir skrywers en akteurs beteken.”

Volgens Sonn is dit Kunste Onbeperk se missie om volhoubare verhoë te skep en in stand te hou; om unieke inhoud te skep en te bestuur en om betrokke te raak by relevante projekte wat waarde toevoeg tot die gemeenskap.

Hy het ook gewys op die belangrikheid van die vennootskap tussen Kunste Onbeperk en die munisipaliteit.

“Ons werk hard daaraan dat ons verhouding met die munisipaliteit goed is. As ons ooreenkomste met mekaar aangaan, is dit ook vir ons belangrik dat beide dit nakom.”

Hy het die burgemeester, Colan Sylvester, namens Kunste Onbeperk bedank vir sy groot bydrae om te help met die oplos van probleme wat ontstaan.

Van Niekerk het op sy beurt aan teenwoordiges die versekering gegee dat Kunste Onbeperk voortdurend na maniere soek om die organisasie so te bedryf dat dit so finansieel gesond moontlik is. Dit het onder meer tot gevolg gehad dat Kuns­te Onbeperk se kontantposisie ten spyte van ekonomiese uitdagings versterk het van 2019 na 2020.

• Die KKNK spog voorts met ’n nuwe media- en bemarkingsbestuurder. Naudé van der Merwe het die pos pas oorgeneem by Jenna-Leigh Billong wat na drie kort maande in die pos bedank het. (Deur Liesel le Roux)