BESIGHEDE en inwoners van die Groter Oudtshoorn, die burgerregte-organisasie AfriForum en die oud-sakeman Nic Barrow het die afgelope week verenig teen die verhoging van munisipale tariewe vanaf 1 Julie 2020.
“Die Oudtshoorn Besigheidskamer verwerp die beoogde verhoging van munisipale tariewe ten sterkste,” sê Jaco Vorster, voorsitter van die kamer.
“Die dorp se besighede sal nie verhoogde tariewe kan bekostig nie en ons munisipaliteit sal dit moet verstaan. Ons wil nie met die munisipaliteit baklei nie, maar daar sal ’n ander plan gemaak moet word om hul begroting te laat klop. Dit gaan moeilik vir besighede wees om net by die huidige tariewe te probeer bly.
Vorster sê die volhoubaarheid van die munisipaliteit se begroting is belangrik vir die volhoubaarheid van Oudtshoorn en sy ekonomie. “Die munisipaliteit sal net soos besighede na sy kostestruktuur moet kyk en moet aanpas sodat dit bekostigbaar is. Die Besigheidskamer is bereid om saam met die munisipaliteit te sit en te kyk na die begroting.”
Volgens Vorster is dit ook belangrik dat die Tuinroete-streek waarbinne die munisipaliteit val, moet kennis neem van hoe moeilik dit op Oudtshoorn gaan. Behalwe vir die ekonomiese druk wat COVID-19 op die dorp plaas, is Oudtshoorn onder groot druk na ’n vernietigende droogte van meer as vyf jaar, terwyl die afstel van die KKNK die ekonomie erg seergemaak het.
Die munisipaliteit het die laaste weke inwoners in advertensies versoek om voor Vrydag 8 Mei kommentaar te lewer op die begroting. Die begroting is op 26 Maart vanjaar ter tafel gelê en opgestel voordat COVID-19 die land en dorp lamgelê het.
AfriForum nooi tans inwoners om ’n petisie aanlyn by afriforum.co.za te onderteken waarin voor die spertyd van 8 Mei beswaar aangeteken word teen dié beoogde verhogings.
“Die Oudtshoorn Munisipaliteit gaan sy belastingbetalende inwoners verarm en onbillik behandel as hulle voortgaan met die beoogde belasting- en tariefverhogings van tussen 6% en 12%,” lui AfriForum se verklaring.
“Die ergste droogte wat die streek ooit getref het met sy vernietigende impak op ons plaaslike landbousektor asook die uitbreek van die COVID-19-pandemie met die afstel van die KKNK en die onmeetbare skade aan ons toerismebedryf, is genoeg rede om daarop aan te dring dat buitensporige verhoging van tariewe, heffings en belastings gestaak word. Onafhanklike studies het reeds getoon dat Oudtshoorn se eiendomsbelasting buite verhouding is in vergelyking met die van omliggende en vergelykbare dorpe.”
Die eienaar van die Rosenhof Boutique Hotel, Nic Barrow, sê hy steun AfriForum se inisiatief volkome. “Die dorp kan nie sulke tariewe hanteer nie. Rosenhof het sedert einde Maart geen inkomste nie en geen besprekings tot einde Augustus nie. Dit is almal in toerisme se situasie.”
Volgens Barrow ondersoek hy ook tans die korrektheid van die vlak waarop die munisipaliteit jare gelede gegradeer is en die invloed wat dit op tariewe en salarisse het. (Deur Liesel le Roux)
Los hoër tariewe in ramptyd!
