Tariewe: Nou die tyd om mekaar te steun

DIT is nou die tyd om mekaar te ondersteun en so Oudtshoorn te help om die COVID-19-pandemie te oorleef.

Die Hoorn steun die Besigheidskamer se benadering om met die Oudtshoorn Munisipaliteit in gesprek te tree om nie tariewe verder te verhoog nie.

Daar sal in die komende weke en maande kreatief en realisties deur die munisipalitet en besighede beplan en saamgewerk moet word ter wille van Oudtshoorn se voortbestaan.

Die inwoners van die Klein Karoo was nooit in die afgelope dekades so kwesbaar soos nou nie.

Talle besighede is op die rand van ondergang.

Talle werknemers het al of kan nog hul werk verloor.

Die droogte van die afgelope jare en die invloed van die H5N8-virus (voëlgriep) op die volstruisbedryf het die dorp reeds swaar getref.

Die afstel van die KKNK het baie besighede as ’t ware katswink ge-slaan.
Die ander gevolge van COVID-19 en die inperkings gaan waarskynlik nog baie ander ondernemings oor die volgende weke en maande oor die afgrond laat stort.

Met elke landbouer en ander besighede wat sink, veral toerismebesighede, verdwyn tientalle, en uit- eindelik duisende, werksgeleenthede.

Verarming en hongersnood hier kan skrikwekkend raak.

Ons moet die hand na mekaar uitsteek en mekaar ondersteun en help.

  • Schalk en Liesel le Roux