KKNK 2020 gaan nie voort soos beplan

Hier is die persverklaring wat vanmiddag deur die KKNK uitgereik is:
In die lig van toenemende kommer oor die COVID-19-pandemie (ook bekend as die
Korona-virus) het die bestuur en direksie van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees besluit dat dié fees op Oudtshoorn nie soos beplan van 23 tot 29 Maart 2020 sal voortgaan nie.
Die besluit is nie ligtelik geneem nie, en is voorafgegaan deur indringende konsultasie met gesondheidsowerhede, die plaaslike regering, die hoofborg, Absa, vennote en ander rolspelers.
“Dit is in die openbare belang van almal wat betrokke is by die fees – kunstenaars,
sakevennote, besoekers en dorpenaars – dat ons dié moeilike besluit geneem het,” sê die Artistieke Direkteur van die fees, Hugo Theart.
Crispin Sonn, voorsitter van die direksie, beaam dié standpunt. “Die KKNK is reeds die afgelope 25 jaar ’n belangrike datum op die Suid-Afrikaanse kultuurkalender en het ’n groot finansiële en sosiale impak op die Oudtshoorn-gemeenskap. Die toenemende erns van die VOVID-19-pandemie het ons egter genoop om dié besluit te neem.”
Alle rolspelers van die onderskeie sektore wat deur dié besluit geraak word – kunstenaars, feesgangers wat reeds kaartjies gekoop het, verskaffers, en ander vennote – sal so spoedig moontlik ingelig word oor die pad vorentoe. Verskeie moontlikhede is op die tafel; die uitkoms sal bepaal word deur riglyne van die nasionale regering, en in hoe ’n mate die
COVID-19-pandemie internasionaal ontwikkel.
Hou gerus die KKNK se sosiale media en webblad dop vir verdere aankondigings.

1 Comment on "KKNK 2020 gaan nie voort soos beplan"

  1. Beaulah | 03/14/2020 at 18:02 |

    Goodday what can businesses do to cover their losses due to the cacellation as lots of money and planning went into it can it be claimed from gov or from who

Comments are closed.