Toeris hier toets negatief vir virus

’N TOERIS wat Oudtshoorn besoek het, het negatief getoets vir die koronavirus. Hy is Vrydag in die Medi­cli­nic Klein Karoo opgeneem met moont­like simptome.

“Ons het dadelik al die riglyne ge­volg en die man in isolasie geplaas,” het Hannes Stegmann, hospitaalbe­stuurder, Maandag gesê.

Die man is Maandag ontslaan nadat sy toetsuitslag ontvang is. Volgens Stegmann is die man reeds op pad terug na die land waar hy woon.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het intussen die groen lig gegee dat toetse by plaas­like laboratoriums gedoen kan word, en nie meer na hulle gestuur hoef te word nie. Die toets is toe by PathCare op Oudtshoorn gedoen.

Volgens Stegmann sal dit vinnige resultate verseker en pasiënte vinni­ger geïsoleer en behandel kan word.

• Die nasionale minister van ge­sondheid, Zweli Mkhize, het intussen gister die eers­te geval van korona­virus in die Wes-Kaap bevestig – ’n 36-jarige man van Kaapstad wat hom by ’n privaat-fasiliteit laat toets het en op 9 Maart na Suid-Afrika terug­gekeer het na ’n besoek aan Duitsland, Oostenryk, Switserland en Turkye. Die man is in self-isolasie.

Die man se kontakte asook mense op die vlug waarmee hy na Suid-Afrika teruggekeer het. word tans opgevolg en sal oor die volgende twee weke gemoniteer word om verspreiding van die virus te voorkom. Meer as 80 mense in die Wes-Kaap is reeds vir die virus getoets.

Dr Nomafrench Mbombo, die Wes-Kaapse minister van gesondheid, het verlede week by ’n perskonferensie gesê die provinsie beskik oor wêreldklas-gesondheidsfasiliteite en doen alles moontlik om ten volle voorbereid te wees vir ’n uitbraak van die koronavirus (COVID-19) in die provinsie.

Sy het inwoners aangemoedig om kalm te bly, die basiese riglyne te volg en nie vals of misleidende inlig­ting te deel nie.

Die provinsie het ’n aantal platforms geskep waarop korrekte inligting beskikbaar is en wat gereeld opgedateer sal word.

Sy het mense met griepsimptome (ligte tot ernstige asemhalingspro­ble­me met skielike koors, hoes en seer keel) én wat gereis het na gebiede waar die virus bevestig is of in kontak was met iemand wat die virus het, aangemoedig om hul dokter of plaas­like gesondheidsfasiliteit te besoek (privaat of openbaar) of die Korona­virus Hotline te bel (0800 029 999).

Mense met simptome word aangemoedig om nie tussen ander rond te beweeg nie en die dokter of gesondheidsfasiliteit vooraf telefo­nies in kennis te stel. (Deur Angelique Erasmus en Liesel le Roux)