Tweede kind sterf op besige N12

Die toneel waar Edward de Jonk (14, foto onder) Dinsdagmiddag op die N12 by die uitgang na De Rust gesterf het.

’N 14-JARIGE seun het Dinsdagmiddag tragies gesterf toe ’n motor hom net buite Oudtshoorn op die N12 getref het.

Edward de Jonk van Rosevalley, ’n woonbuurt reg langs die N12, is op die toneel dood verklaar.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het ’n ooggetuie in ’n verklaring aangedui dat Edward oor die pad ge­hardloop het waarop die bestuurder van ’n rooi Volkswagen Polo vir hom toeter geblaas het. Die kind het volgens die verklaring skielik in die pad gaan staan, waarna die ooggetuie ’n harde slag gehoor en die kind deur die lug getrek het.

Volgens Michaels ondersoek die polisie ’n klag van strafbare manslag teen die bestuurder.

In Desember 2018 het Caywon Snyders (4) ook op die pad gesterf toe hy deur ’n vragmotor raakgery is.

Kinders speel na bewering gereeld langs dié besige pad, en hardloop oor en weer daaroor. Met Die Hoorn se besoek aan die toneel het groter kinders oor die pallisadeheining langs die pad geklim.

’n Inwoner wat gevra het om anoniem te bly, sê ’n groep van sowat 30 kinders het gistermiddag krieket oorkant die ingang na Johnson’s Bricks gespeel. “Die kinders het agter die heining gespeel, maar drie kinders het aan die pad se kant gestaan om balle wat ver geslaan word, te keer,”

Edward is gister deur Brandon Griffin, onderhoof van Bergsig Primêr waar hy ’n leerder was, as ’n stil en teruggetrokke kind bestempel. “Hy was ’n rustige en vredeliewende kind. Dis hartseer dat hy so tragies moes sterf.”

Hy sê verder dat hy die familie baie goed ken en het hulle as ’n baie netjiese familie beskryf.

“Ons moet iets goed uit sy dood laat voortspruit. Die owerhede moet die bord by die begraafplaas wat 60 km/h aandui, na voor die woonbuurt skuif.”

Leon Campher, ’n gemeenskapsleier wat op die ongelukstoneel was, sê die gemeenskap moet hul kinders veilig hou en te alle tye weet waar hulle is.

“Die heining is reeds daar opgesit om die kin­ders en diere se veiligheid te verseker. My innige simpatie met die familie met hul groot verlies.”

Edward is die seun van Lenie de Jonk en Joseph Manewil, en die broer van Ashwil (7). Sy be­droef­de ma was ontroosbaar op die botsingstoneel. Die begrafnisdiens vind Saterdag 21 Maart 2020 om 10:00 by die huis (nr 17863) in Rosevalley plaas. (Deur Angelique Erasmus)

Be the first to comment on "Tweede kind sterf op besige N12"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*