Kannaland se matrieks blink uit in eksamen

Marshall Alexander
Chrisinda Alexander

HARDE werk blyk die gemene deler te wees as ’n mens luister na die toppresteerders by die twee plaaslike hoër­skole op Ladismith.

By Hoërskool Ladismith het Marshall Afri­kaner (18) die beste pres­teer. Marshall het sy sukses toegeskryf aan die alomteenwoor­digheid van sy oorlede ma, wat volgens hom “bewus sou wees” van sy prestasie. Hy wou ook sy suster by wie hy tans woon, nie teleurstel nie. Hy was baie gedissiplineerd en het daagliks ’n paar uur af­gestaan aan sy studie. Toe die eksamen aanbreek, het hy selfs harder geleer.

Die feit dat sy klasmaats en hul ouers altyd saam die ouervergade­rings bygewoon het, het hom gemotiveer om be­ter as hulle te presteer.

Marshall beplan om eers ’n jaar te werk om genoeg geld te spaar sodat hy volgende jaar kan gaan studeer.

By Ladismith Sekondêr het Chrisinda Alexander haar skool se naam hoog gehou.

Chrisinda is van die naburige sendingstasie Zoar en het in die skoolkoshuis tuisgegaan. Volgens Chrisinda het haar koshuismaats haar in ’n stadium begin spot omdat sy altyd besig was om te studeer. Sy het toe besluit om by ’n vriendin in Varkiesvlei, ’n informele nedersetting, te gaan woon. Die armoede wat sy daar gesien het, het haar geïnspireer om selfs harder op skool te werk.

Sy sê twee van haar onderwysers, Santie Meyer en Warren Moos, het haar deurentyd gemotiveer om in haarself te glo en deur te druk. Moos het haar ook met haar aansoek by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gehelp.

Sy gaan vanjaar onderwys studeer danksy ’n beurs van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS). (Deur Deon Meyer)