Skoolhoofde tevrede met 2019-uitslae

Die toppresteerder in verlede jaar se matriekeksamen by
Aurial Kollege op Oudtshoorn was Carlynn Dyssel, wat
met ’n gemiddeld van 74,8% geslaag het.

DIE Klein Karoo se skole spog weer met uitstekende uitslae in die onlangse matriekeindeksamen wat ’n aanduiding is van die gehalte van onderrig in dié deel van die Wes-Kaap.

Hoewel slegs die Shalom Akademie op Ladismith met ’n 100%-slaagsyfer spog, was skoolhoofde in die Klein Karoo die afgelope week oor die algemeen tevrede met hul slaagsyfer en die aantal A-gemiddeldes.

Die Eden Sentraal Karoo-distrik se skole het die tweede beste in Wes-Kaap gevaar.

Die Hoërskool Oudtshoorn spog vanjaar met ’n indrukwekkende 18 A-gemiddeldes onder sy 111 leerders.

“Die matrieks van 2019 was ’n besonderse groep,” sê Gerhard Rudolph, hoof van die skool.

“Hulle doelgerigtheid, werksetiek en vermoë om ’n doelwit na te streef was wonderlik,” sê hy.

Soos met enigiets in die lewe was daar deur die jaar volgens Rudolph hoogte- en laagtepunte, maar dit het vir Rudolph uitgestaan dat die groep hulself kon herorganiseer en struktureer en hul fokus verskuif om steeds hul doelwit te bereik.

Volgens Rudolph het die skool ’n groot diversiteit van kulture, wat die skool uniek maak.

“Aan elke ouer, kind en personeellid wil ek graag sê dat ek julle salueer.

“Ek sien uit daarna om julle almal by 2029 se matriekreünie te sien.”

Nog ’n skool wat jaar ná jaar met uitstekende uitslae spog, Langenhoven Gimnasium, se 116 matrieks het ook weer vanjaar presteer met 11 A-gemiddeldes tussen hulle.

Die skoolhoof, Stephanus Potgieter, sê die skool se 100%-matriekslaagsyfer einde 2018 was beslis vir hulle ’n hoogtepunt, asook die skool se uitstekende sportuitslae.

“Die matriekgroep van 2019 was ’n besonderse groep wat ’n groot aandeel gehad het in die sukses van die skool as spelers en leiers, maar ook as uitbouers van Gimmies se strewe na uitnemendheid.

“Die afsterwe van een van ons matriekleerders, Marilize Nortier, kort voor die begin van die eindeksamen was vir ons as skool nie net ’n laagtepunt gewees nie, maar ook ongelooflik hartseer,” het Potgieter gesê. (Deur Angelique Erasmus)