Heerlike Karooaand met ’n nuwe boek in ’n tuinparadys…

Marius Alberts aan die woord tydens die be­kendstelling van sy nuutste boek Saterdag­aand op Calitzdorp. Foto: Ferdi Victor

Tik-tak, tik-tak
Ek lê en rondrol uur na uur…
Die toekoms is ‘n duister ding
Wat knaag en vreet…

So lees Marius Alberts in ’n kalm, rustige stem voor uit sy nuutste boek wat Saterdagaand bekend gestel is by die Tuinateljee op Calitzdorp. En hier het die “tik-tak” vir ’n oomblik stilgestaan; tyd vasgevang in ’n aand van Karoo-lekkerte: Elsie Calitz se skilferkorsgebak, goeie plaaslike wyn en letterkunde.

Dan ook kom die bekende helder stem van Bibi Slippers as sy voorlees uit haar neef se nuutste boek, Huisie langs die pad/The Wayside Cottage: “There were many days that I wondered about things in my life. Some were good. Others surely bad, but one learns to survive and push through. Also, that as a child you don’t know any better.”

Ek paparazzo deur die gaste op soek na ’n paar steelfoto’s en loop heelwat bekendes raak. Die kontemporêre papierkunstenaar, Daniel du Preez, is ook daar. Ons gesels lank oor sy kuns, drama en dorpkonserte. Dit is ’n groot aand – ’n Karooaand!

Marius Alberts woon al vir baie jare op Calitzdorp en het sy status as “inkommer” lankal verloor. Hy is aan die Oos-Rand gebore en het Verpleegkunde studeer om later te spesialiseer in Intensiewe Sorg en Beroepsgesondheid.

Sy skryfwerk was egter nog altyd vir hom belangrik en in 2012 inspireer ’n vriendin hom om sy werk te pu­bliseer.

Skakerings van Grys, sy eerste digbundel, het die lig in 2013 gesien en die boek van hierdie aand, Huisie Langs die Pad, in 2020; uitgegee deur Malherbe Uitgewers. Alberts het dié werk self vertaal en dit het verskyn onder die titel The Wayside Cottage.

Alberts werk in Madagaskar, maar keer telkens terug na Calitzdorp om asem te skep en sy pen in te span vir die woorde van sy hart.

Hier skuins na nege ontglip ek dié tuinparadys met ’n vrag boeke styf vasgeknyp onder die blad en ek lees tot laataand totdat die ou kerkklok my tot tik-tak, tik-tak roep:
Vandag het alle gedagtes vrye teuels
Om uit te styg bo kluistering
Geen band en rem terug na hede
Om bloots te ry die heelal deur
Ver styg ek uit na bo… (Deur Ferdi Victor)