Sonkragprojek gestop

DIE Wes-Kaapse Hooggeregshof het Vrydag (19 Maart) ’n stokkie gesteek voor die Kannaland Munisipaliteit se beoogde sonkrag-, water- en tele­kommunikasieprojek van R735 miljoen asook voor ses politieke aanstellings – vyf in die kantoor van die speaker en een in die kantoor van die burgemeester.

Waarnemende regter Nobahle Mangcu-Lockwood het die Kannaland Munisipaliteit beveel om nie voort te gaan met die ondertekening van ’n uitkontrakteringsooreenkoms met Inovasure vir krag- en watervoorsiening nie.

Die hof is in Januarie deur die Wes-Kaapse mi­nister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, genader in ’n poging om dié besluite stop te sit.

Hy het die besluit van die hof verwelkom. “Die provinsiale departement het alles probeer om die raad te laat saamwerk, maar dit was vergeefs. Die raad was vasberade om voort te gaan met die besluite en ons geen ander keuse gelaat as om die hof te nader nie.”

Die sukkelende Kannaland Munisipaliteit is in 2018 deur die Wes-Kaapse regering onder finansiële administrasie geplaas nadat die raad in Desember 2016 die provinsie gevra het om in te gryp.

Bredell het ’n beroep gedoen op die Kannaland-raad om saam met die provinsie te werk om die finansiële herstelplan toe te pas. “Dit is in die beste belang van die mense van Kannaland.”

Kontrak met Inovasure en politieke aanstellings

Luidens hofdokumente het die provinsie en Nasionale Tesourie die Kannaland Munisipaliteit verskeie kere teen die projek gewaarsku, onder meer omdat die proses wat hulle wou volg nie voldoen het aan bepalings van die Munisipale Finansiële Bestuurwet (MFMA) en die Tesourie nie.

In haar uitspraak het Mangcu-Lockwood gesê die administrateur het goeie vordering gemaak totdat die ANC-burgemeester, Magdalena Barry, mid­del 2020 Covid-19 opgedoen het. Die ANC-raadslid Philip Antonie, het toe ’n koalisie gevorm met Icosa, die DA-speaker verwyder en is ’n reeks besluite geneem wat gelei het tot geskille tussen die munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.

Sy het gesê die besluit om die ooreenkoms met Inovasure te sluit – met die bedoeling om Kannaland onafhanklik te maak van Eskom se beurtkrag – het die administrateur en die finansiële herstelplan uitgeskuif asook die kostebesparende organisasiestruktuur wat deur die administrateur ingestel is. Volgens Mangcu-Lockwood het Kannaland onregmatigheid opgetree toe hulle die Inovasure-projek wou aanvaar terwyl hulle onder administrasie was. “Dit is presies hierdie soort kontrak wat aan die (finansiële herstel-) plan moes voldoen, en waaroor die administrateur eksklu­siewe gesag gekry het,” het sy gesê.

Die regter het gesê daar was ook geen regverdiging vir die ekstra personeel by ’n munisipaliteit onder finansiële druk nie.

“Al hierdie besluite, indien dit deurgevoer sou word, sou ongetwyfeld ’n beduidende impak op die munisipaliteit se finansies gehad het en ook die finansiële herstel van die munisipaliteitondermyn het.

“Hierdie soort gedrag deur openbare amptenare en politieke ampsdraers is nie net skadelik vir die oppergesag van die reg en die aansoekers nie, maar ook vir die inwoners van Kannaland. Dit is ’n resep vir chaos in regering.” (Deur Liesel le Roux)