Briewe van lesers

Wetstoepassers, SAPD moet geen genade betoon aan vandale

Ek verwys graag na die berig Vandalisme op Oudtshoorn kos munisipaliteit duisende in Die Hoorn van 18 Maart 2021.

Dit is tyd dat strawwe vir kabeldiefstal dringend verhoog word aangesien dit eintlik sabotasie is. My opinie is dat dit gepaard gaan met terrorisme.

Die wette teen die kopers van gesteelde goedere word volgens my kennis ook nie nagekom nie. Daar word wetlik ’n register vereis vir alle aan­kope, met die volle identiteitsbesonderhede van die persoon wat verkoop.

Die SAPD moet hierdie register maandeliks inspekteer en teken, soos wat dit in die gebruikte motorhandel gedoen word. Die aankopers van gesteelde artikels is net so aandadig as die diewe. Aankopers ontduik ook in­kom­stebelasting weens kontanthandel wat plaas­­vind; so ook die groot verkopers van duursame artikels soos juwele en rekenaars.

Ons wetstoepassing het slap geword in hierdie opsig omdat omkopery aan die orde van die dag is.
Ons wetstoepassers en regslui moet geen genade aan hierdie mense betoon nie.

Ek verwys ook na die voorbladberig (Huise langs rivier geteiken deur bosslapers): Ek het al verskeie kere versoeke aan ons munisipale amptenare en die SAPD gerig dat die Grobbelaarsrivier skoongemaak word, letterlik asook figuurlik.

Met ons eie inspeksie van die rivier onlangs het ons twee manne betrap wat daar woon naby Bloemstraat.
Hulle verweer was dat die vorige burgemeester hulle beveel het om in die rivier te bly aangesien hy nie vir hul behuising kan voorsien nie. Dit is dieselfde burgemeester wat volgens berigte die gholfbaan-plakkers toegelaat het.

Elke ou maak nou mos maar soos hy wil en bogger die res!
– Nico Ungerer, Oudtshoorn

Die dorp se stem op lamppale

Graag verneem ek of die Christelike geskrifte op ons lamppale die algemene versugting van ons dorp is.
Daar word gevra vir mercy – dat God ons gee wat ons nie verdien nie.

Geen verduideliking word gegee wat die skrywer hiermee bedoel nie; Gaan dit oor my redding en lewe in oorvloed wat God vir my deur Jesus se kruisdood bestem het, of gaan dit oor die droogte. Of oor wat…?

Dan word daar gevra vir Stop sin en Save us from sin.

Volgens die Christen-geloof kan God nie hierdie dinge vir ons nuut bewerkstellig nie. Dis 2000 jaar gelede kláár vir ons gegee. Jesus het dit aan die kruis gedoen. God already saved me from myself. Dis nou óns beurt om uit geloof oor te gaan na die breek met sonde. Ook uit gehoorsaamheid en dankbaarheid. Met volharding.

My gevoel is dat sulke halwe waarhede of stellings nie aan klokke en op pale hoort nie, want dit is nie suiwer nie. Ook duld God nie gemengde (onsuiwer) saad nie en steur Hom waarskynlik nie aan hierdie ondeurdagte versoeke nie.

Versigtig ook dat een persoon of instansie instaan vir ’n hele dorp se geloof en uitlewing daarvan. Daar mag heelwat Christene wees wat hulle nie skaar by onsuiwer en ligte denke nie.
– Anoniem, Oudtshoorn
(Die brief is gestuur aan een van die betrok­ke­nes by die opsit van die plakkate, en hy het aangedui dat hul eersdaags daarop sal reageer. – Redakteur)

Raad en amptenare verdien prys

Regtig waar, die burgemeester, raad en amp­tenare van die Oudtshoorn Munisipaliteit verdien om geprys te word oor wat tans hier op Oudtshoorn ge­beur.

Die strate wemel van kontrakteurs, strate word oral herstel, die ekonomie is besig om te herstel en daar is daagliks gesprekke met groot besighede en ander lande om hier te kom belê.

Jy lees nêrens meer van onderlinge bakleiery onder leiers nie en ons ervaar ’n gefokusde leierskap.

Die burgemeester se hand is duidelik sigbaar in die vooruitgang van ons dorp. Selfs die negatiewe kommentaar wat gereeld in die koerante oor ons verkeer verskyn het, het omgeswaai na komplemente oor die amptenare by die kantoor.
– Oudtshoorniet