DIE Wes-Kaapse Hooggeregshof het Vrydag (19 Maart) ’n dringende aansoek van Icosa toegestaan om die Kannaland-raad se besluite van 10 Maart om te keer.
Die Hoorn het op 11 Maart berig dat die DA en ANC by dié vergadering – wat gehou is in die Ladismith Stadsaal en waar die vonke tussen raadslede en die publiek gespat het – saamgewerk het om beheer van die raad by Icosa en die ANC oor te neem.
Dit het gebeur nadat die Icosa-speaker, Werner Meshoa, die vergadering verdaag het en die vergadering deur die DA- en ANC-raadslede in die munisipale hoofgebou voortgesit het.
Meshoa en raadslid Hyrin Ruiters is na afloop van wantrouemosies tydens hierdie tweede vergadering vervang deur die DA se Aletta Theron (speaker) en Joslyn Johnson.
Icosa het in hul aansoek by die Hooggeregshof aangevoer dat die vergadering onwettig was omdat Meshoa dit verdaag het.
• Deon Meyer berig uit Kannaland dat Icosa die wettigheid van die voortsetting van die vergadering in die Hooggeregshof betwis het, waarna die hof die voortgesette vergadering tussen die DA en ANC ongeldig verklaar en beveel het dat die status quo, soos tot voor 10 Maart, gehandhaaf moes word.
“Die ANC/DA-koalisie moes sekerlik ons woorde ligtelik opgeneem het toe ons hulle gewaarsku het dat ons hulle in die hof sal sien,” het Jeffrey Donson, Icosa-leier, oor die party se oorwinning gesê.
“Ons het op ons ander Icosa-takke ’n beroep gedoen om ons te help om die regskoste te dra,” het ’n duidelik ingenome Donson gesê.
“Die opposisie wou nog die dringendheid van die aansoek bevraagteken, maar die regter het beslis dat die saak aangehoor moes word,” het hy bygevoeg.
Dit het intussen bekend geword dat die ANC glo beoog om teen lede op te tree wat saam met die DA gestem het. Lerumo Kalako, ANC-woordvoerder, het na verneem word gesê dat die betrokke ANC-lede sterk optrede teen hulle kan verwag.
• Gillion Bosman, die DA se kiesafdelingshoof in Kannaland, het intussen aan Die Hoorn gesê die hofuitspraak beteken dat ’n ander mosie ter tafel gelê moet word, en dat dit inderdaad reeds gedoen is.
“Die huidige speaker (Meshoa) het reeds die kennisgewing hiervoor ontvang, en die motivering vir die mosie is dat mnr Meshoa in ’n hof skuldig bevind is aan korrupsie en dwarsboming van die gereg,” het Bosman gesê.
Volgens Bosman is daar ook prima facie-bewyse van verdere korrupsie wat tussen Desember 2020 en nou plaasgevind het terwyl Icosa en die ANC in alliansie regeer het.
“Dit het gebeur terwyl burgemeester Barry (ANC) besig was om te herstel van Covid-komplikasies. Hierdie bewerings word deur die Valke ondersoek,” het hy bygevoeg.
Bosman het bevestig dat ’n verdere mosie van wantroue teen raadslid Ruiters ingedien is as verteenwoordiger van die Tuinroetedistriksmunisipaliteit.
“Hierdie mosie is in reaksie op raadslid Ruiters wat die munisipaliteit in oneer bring het deur lede van die publiek en amptenare in die munisipaliteit openlik te dreig,” het Bosman gesê.
• Meshoa is onlangs in die Ladismith Streekhof aan bedrog skuldig bevind.
Hy word op 30 Maart gevonnis. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Kannaland: oorname deur DA en ANC onwettig, sê hof
’n Verheugde span van Icosa nadat die party Vrydag ’n hofsaak gewen het teen die DA en ANC wat op 10 Maart beheer oor die Kannaland-raad oorgeneem het. Tweede van regs is die Icosa-president, Jeffrey Donson. Die hof het Icosa se aansoek toegestaan dat die vergadering onwettig was waar die oorname plaasgevind het.
Foto:
Icosa op Facebook