DIE Dysselsdorp Polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur nadat ’n wit Nissan-bakkie verlede Donderdagaand (18 Maart) op die N12 op pad na De Rust gerol het.
Volgens kapt Joey Strydom, stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp Polisie, is die bakkie omstreeks 21:02 langs die N12 op ’n oop stuk grond gevind. Die voertuig was op sy wiele.
“Dit was egter duidelik aan ’n duik op die dak dat die bakkie gerol het. Die deure is ook erg beskadig,” het Strydom gesê.
Volgens Strydom is dit onduidelik wat die ongeluk veroorsaak het.
Die bestuurder was self erg beseer, bebloed en het op die toneel aan skok gely.
“Hy kon nie onthou wat gebeur het nie, maar ons kon vasstel dat hy op pad was De Rust toe met drie werkers – een langs hom in die bakkie, en twee agterop,” het sy gesê.
Al vier insittendes is met verskeie beserings na die Oudtshoorn Hospitaal geneem. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Vier beseer toe bakkie op De Rust-pad rol
