DIE KKNK gaan terugkom, daaroor hoef inwoners van Oudtshoorn nie bekommerd te wees nie.
Dit was die afgelope week die boodskap van die artistieke direkteur van die KKNK, Hugo Theart, op ’n vraag wat Die Hoorn inwoners die laaste tyd baie hoor vra het.
“Ten spyte van wat wie ook al sê, die KKNK sal absoluut terugkeer na Oudtshoorn se strate. Die enigste vraag is nog wanneer, en daaroor is daar in hierdie stadium nog groot onsekerheid. Ek self kan nie meer wag om weer fees te hou nie”
Theart laat egter die aap uit die mou dat daar vanjaar – moontlik sommer eersdaags – ’n bietjie kunstefees-opwinding deur die dorp mag swiep met ’n paar vertonings en ’n groot naam of twee wat na die Klein Karoo kan kom. Om so ’n vertoning te laat realiseer, sal dit egter streng aan alle Covid-19-regulasies moet voldoen.
KKNK beïndruk landwyd met inisiatiewe.
Intussen beïndruk die KKNK landwyd met talle kursusse en inisiatiewe wat sedert die begin van die inperking verlede jaar op gereelde basis geloods word – vir jongmense van Oudtshoorn en die streek maar ook vir gevestigde kunstenaars.
“Een van die mandate van die fees is om die uitvoerende kunste te ondersteun en te bevorder. En ons kyk tans na aktiwiteite wat risiko’s vir alle betrokkenes sal minimaliseer.”
KKNK wil stres verlig met vertonings
“Die impak van die pandemie is groot op die dorp. Stres is ’n realiteit en mense kry swaar.
“Aan die ander kant bied die kunste mense ’n wonderlike uitlaatklep. Vermaak laat ons vergeet, help ons om dinge te verwerk.
“Daarom wil ons poog om vanjaar enkele vertonings aan te pak binne die inperkingregulasies. Ons het reeds onlangs ’n baie geslaagde pop-up-vertoning met Lizz Meiring gedoen.
“Ons sal graag sulke vertonings in samewerking of vennootskap met besighede of byvoorbeeld restaurante wil doen. Enigiemand met ’n goeie plan is welkom om met ons daaroor te gesels.”
Projekte wil geleenthede skep en oplei
Die KKNK fokus tans ook op projekte wat geleenthede skep vir die jeug van Oudtshoorn, die Tuinroete-streek en wyer in die land, soos ’n filmkursus, ’n landwye dramakompetisie vir leerders, en nou ook samewerking met die Britse Raad in Suid-Afrika om jong vroue van Oudtshoorn te bemagtig.
Volgens Theart is daar tans 40 groter en kleiner projekte wat ontwikkel word.
Ons beoog ook ’n sterk aanlyn-teenwoordigheid die res van die jaar – met “wonderlike teater, musiek en kuns” wat aanlyn beskikbaar sal wees.
“Dit bied ons ook die geleentheid om ’n baie breër mark te bereik en ook internasionale gehore te bereik en uit te bou.
“Ons wil die Oudtshoorn-naam uitdra en Oudtshoorn as bestemming bemark deur die aktiwiteite wat ons aanbied, en so sorg dat daar ’n konstante bewustheid van die KKNK geskep word.
Borge steeds bankvas agter die fees
Theart sê die KKNK is as die Afrikaanse moederfees in die land dankbaar vir die steun en bystand van hul borge en so baie ander mense.
“Dié mense staan bankvas agter ons, ook in hierdie uitdagende tye.” (Deur Liesel le Roux)