TWEE verdagtes is deur polisie in die Klein Karoo vasgetrek nadat twee mans onderskeidelik Saterdagaand en vroeg Sondagoggend in Dysselsdorp en Bridgton aan steekwonde beswyk het.
Die Dysselsdorp Polisie het ’n 24-jarige verdagte Saterdagaand (20 Maart) vir moord in hegtenis geneem na die dood van Adrian Esau (30) in Dysselsweg, Dysselsdorp. Die verdagte sal op 31 Maart in die hof verskyn vir sy borgaansoek.
Kapt Joey Strydom, stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp Polisie, sê die polisie het die slagoffer omstreeks 22:30, voor die “Puff”, met ’n steekwond in sy bors gevind.
“Uit getuienis blyk dit dat daar ’n bakleiery was. Daarna het die verdagte self polisiekantoor toe gehardloop vir hulp, waar hy op ’n klagte van moord in hegtenis geneem is,” sê Strydom.
Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het Oudtshoorn-speurders op hul beurt ’n 27-jarige verdagte in hegtenis geneem nadat Abriel van Wyngard (27), bekend as Fennie, omstreeks 02:15 Sondagoggend (21 Maart) by sy huis in Lappertstraat gesterf het.
Van Wyngaard is volgens inskrywings van die gemeenskap op Die Hoorn se Facebook-blad die pa van ’n baba wat nog nie eens ’n maand oud is nie.
Spies sê dat ’n voorlopige ondersoek aandui dat die slagoffer saam met ’n vriend in die straat was toe ’n voertuig langs hulle stilgehou het. “Twee insittendes van die voertuig, gewapen met skerp voorwerpe, het uitgeklim en hulle aangeval,” sê Spies.
Volgens Spies is Van Wyngaard verskeie kere gewond. “Hy het na sy huis gevlug maar daar ineengestort. Hy is later op die toneel deur paramedici dood verklaar,” sê Spies. Die motief vir die aanval is nie duidelik nie.
Albei verdagtes is tans in aanhouding. (Liesel le Roux en Stefan Goosen)
2 mesmoorde, slegs enkele ure na mekaar
Abriel (Fennie) van Wyngard (27).
Foto: Facebook