
GEREEDSKAP wat gebruik kan word om by huise in te breek en voertuie te steel, asook klapmusse (balaclavas) en motorsleutels is in die voertuig gevind waarmee verdagtes Dinsdagnag – nadat drie voertuie in die dorp gesteel is – gevlug het.
Volgens kapt Siphokazi Mawisa, woordvoerder van die Oos-Kaapse Polisie, het die polisie omstreeks 11:00 in die middedorp van King Williams’ Town beslag gelê op ‘n Polo Vivo en twee mans naby die taxistaanplek in hegtenis geneem. Hulle verskyn Maandag in die King William’s Town Landdroshof.
“Die polisie het in die vroeë oggendure inligting ontvang oor ’n Isuzu-bakkie wat in Oudtshoorn gesteel is asook dat die verdagtes met ’n gehuurde Polo Vivo op pad is na Umtata,” sê sy. Volgens haar het die polisie die Polo in die middedorp gewaar, dit gestop en die gereedskap in die motor gevind.
Die bakkie, wat aan Louis Alberts van Jan van Riebeeckweg, Oudtshoorn behoort, is op die N2 tussen Peddie en King William’s Town gevind nadat die bestuurder teen ’n krans vasgejaag het. Die bestuurder het daarin geslaag om te vlug voordat die polisie op die toneel was. Hulle het die omgewing gefynkam, maar kon nie die bestuurder vind nie.
Die waarnemende bevelvoerder van die King William’s Town Cluster, kol Nomvuyo Mrwebi, het die polisie bedank vir hul optrede asook lede van die gemeenskap wat inligting aan die polisie deurgegee het.