Konvooi van hoop gee knop in die keel

Boere van die Badshoogte-omgewing, een van vier plekke in die Oudtshoorn- en Calitzdorp-omgewing waar Saterdag voer afgelaai is, vergader voor die konvooi van tien vragmotors. Foto: Charlie Nunn

Oud en jonk het Vrydagaand die koue getrotseer om die vragmotorbestuurders te gaan bedank wat voer vir boere gebring het. Foto’s: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
VIR ’n halfuur lank Vrydagaand was dit byna soos kunstefeestyd in Voortrekkerweg, Oudts­hoorn – met mense laataand in die straat en ’n gevoel van opwinding in die lug.

Die geleentheid was die aankoms van 10 dub­belbak-vragmotors van Pride Bulk Logistics wat 330 ton mielies vanaf Bothaville in die Vrystaat na boere in die Oudtshoorn- en Calitzdorp-omgewing gebring het ná ’n versoek om hulp aan Burre Burger wat ’n droogtehulp-inisiatief bedryf.

Oudtshoorniete is vroeër die dag op Whatsapp-buurtwaggroepe en sosiale media aangemoedig om die vragmotorbestuurders op die dorp te kom verwelkom. En die dorpenaars was daar met ’n handdruk en ’n glimlag, met koffie en hamburgers, én met hul selfone en kameras toe die vragmotors omstreeks 21:45 op die dorp aangekom en vir sowat 20 minute tussen

Langenhovenweg en die Rec in Voortrekkerweg geparkeer het.

Inwoners en die vragmotorbestuurders was sigbaar geraak deur die ontmoeting en talle het daarna op sosiale media geskryf hoe die hulpgebaar uit die noorde hulle aangegryp het.

Die mielies is Saterdag by vier versprei­dings­punte in distrikte van Oudtshoorn en Calitzdorp afgelaai – in die Gamka-gebied,

Volmoed, Bads­hoogte en die Kammanassie.

Die mielies wat dertien dubbelbak-vragmotors tot dusver in die droogtegeteisterde streek afgelaai het, sal na raming uitkoms vir slegs sowat 45 dae bied. Ligte reën het verlede week in die omgewing uitgesak, maar slegs tussen 3 mm en 13 mm reën is in die gebied gemeet.

• ’n Gebore Oudtshoorniet wat deesdae in Ierland woon, Tian Stemmet, het intussen ook ingespring om hulp vir Suid-Afrika se boere wat deur droogte geteister word, te reël. Burre Burger vertrek volgende week na Ierland waar hy saam met Stemmet sal probeer fondse insamel vir droogtehulp in Suid-Afrika.

• Inwoners het vir Christo Calitz, Alicia Minnie, Anneline Botha en Amanda Grobler bedank vir hul bydrae om inwoners in te lig oor die aankoms van die vragmotors en om koffie en hamburgers aan die vragmotorbestuurders te verskaf.