5 gesteel, 3 gevind, 1 gefnuik

• Nagtelike voertuigdiefstal ruk Oudtshoorn

Deur Liesel le Roux
VYF voertuie is sedert die naweek op Oudtshoorn gesteel – almal oornag en party van agter geslote hek­ke.
Die goeie nuus is egter dat drie voer­tuie wat tussen Dinsdagaand en Woensdagoggend gesteel is, gister in die omgewing van Peddie in die Oos-Kaap gevind is.

Vier mans is volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudts­hoorn Polisie, in hegtenis geneem in verband met die diefstalle. ’n Vyfde het egter daarin geslaag om weg te hardloop nadat die gesteelde voertuig waarmee hy probeer wegkom het, in ’n botsing betrokke was.

Die Isuzu-bakkie van Louis Alberts wat uit sy erf in Jan van Rie­beeckweg 251 gesteel is, is na ver­­­neem word beskadig toe die be­stuurder daarmee teen ’n krans vasgejaag het. Louis se bakkie is tussen 23:30 Dinsdag en 03:40 Woensdag uit sy erf gesteel.

Nog ’n bakkie wat gevind is, ’n Hyundai H100-trokkie, behoort aan Blain Blignaut en is tussen 19:00 Dinsdag en 07:30 uit sy erf in Ellystraat gesteel.

Hy het dié nuwe bakkie nog nie eens 48 uur lank gehad toe dit gesteel is nie, vertel Blignaut.

Blignaut het gesê hy het verneem dat daar ’n skietery tussen die diewe en polisie was voordat sy bakkie gevind is, maar Die Hoorn kon nie voor druktyd dit bevestig nie.

Die derde voertuig wat gevind is, is Anja Dippenaar se Toyota Corolla 1600 wat tussen 22:45 Dinsdag en 07:30 Dinsdag uit die erf in Buite­kantstraat 96 gesteel is.

Dippenaar sê sy het die diefstal eers ontdek toe sy die oggend wou werk toe gaan. “Die hek het halfpad oopgestaan,” vertel sy.

• Een gepoogde diefstal Dinsdag is egter gefnuik. Anneline Botha van Jan van Riebeeckweg 22 se Toyota Corolla is amper gesteel, maar geluk­kig kon hulle die diefstal voorkom.

Sy vertel dat hulle die diewe op heterdaad betrap het nadat hulle reeds die motorhek oopgebreek het en be­sig was om haar motor uit die erf te verwyder. Volgens Botha moes die diewe deur twee stelle hekke om by die voertuie uit te kom.

“Ek het omtrent kwart voor twaalf wakker geword toe my honde geblaf het, maar ek kon niks buite sien nie. Ek het twee keer ’n voertuig hoor stop en ry, maar het steeds niks ge­sien nie. Omtrent twintig oor een het die honde weer verskriklik geblaf en toe my ma deur die venster na buite kyk, het sy in een van die diewe vasgekyk. Hulle het weggehardloop en ons kon hoor hoe ’n kar hul oplaai en wegjaag.”

Volgens Botha was haar ma se To­yota Tazz wat ook in die erf gestaan het, ook oopgemaak, en haar kaarte en geld uit haar beursie wat in die voer­tuig was, gesteel.

• Twee voertuie is verlede Vrydagnag gesteel.

Die wit Toyota Hilux-bakkie van Francois Lombard van Jan van Riebeeckweg 105 was gister steeds soek nadat die diewe vermoedelik ook met dit Oos-Kaap toe gevlug het.

Die registrasienommer van die bakkie is CG 15615. Dit is tussen 22:00 Vrydagaand en 04:30 die Saterdagoggend gesteel.

Lombard sê sy bak­kie was agter ’n geslote elektriese hek langs sy slaapkamer geparkeer. Nie hy of sy vrou, Hester, of hul Rot­weiler of Jack Russell het wakker ge­word terwyl die diewe doenig was nie.

Sandra Frans se rooi Volkswagen Fox is Vrydagaand tussen 20:30 en 21:15 van die sypaadjie voor die huis in Ros­souwstraat 2361 in Bridgton gesteel. Dit is Saterdag verlate agter die CG Kamp in Bridgton gevind. Die voertuig se battery en items wat binne-in die voertuig was, is gesteel.

• Kapt Mariaan Vos, bevelvoerder van die Oudtshoorn Voertuigmisdaad­eenheid, het ’n beroep op inwoners gedoen om seker te maak hul voertuie is veilig en so voertuigdiefstal te help beveg.

“Dikwels word voertuie op sypaadjies en oop ruimtes geparkeer en soms nie eens gesluit nie,” sê sy.

Volgens Vos moet inwoners ook in gedagte hou dat die versekering nie vir ’n versekerde voertuig wat gesteel word, uitbetaal indien die diefstal as gevolg van nalatigheid was nie.

Sy het inwoners ook versoek om nie kosbare artikels in hul voertuie te bêre nie.

• Kontak die polisie of voertuigmisdaadeenheid by sel 082 522 2720 indien jy verdagte voertuie of mense in jou woonbuurt opmerk.