Die botsingstoneel Sondagaand op die hoek van Voortrekkerweg en Addreleystraat op Oudtshoorn. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
“AL waaraan ek kon dink was my kinders,” sê Christie September, hoof van Rooiheuwel Primêr buite Oudtshoorn, nadat hy, twee van sy dogters en sy kleinkind Sondag omstreeks 18:45 in ’n ongeluk op die dorp betrokke was.
“Ons was op pad om een van my oudste dogters by die Caves Aftreeoord te gaan oplaai na haar skof. Ek het ouder gewoonte in Adderleystraat afgery en gesien die verkeerslig is groen. Die volgende oomblik is die motor getref en het ons twee keer in die rondte getol.”
Volgens September is sy blou Nissan op die kruising met Voortrekkerweg teen die voorste passasiersdeur getref deur ’n voertuig wat in die rigting van De Rust gery het.
Die geweld van die botsing het sy jongste dogter Christie in die motor vasgekeer.
Sy moes met meganiese kake uit die motor gesny word.
Hy vertel sy het beserings aan haar pelvis en bene opgedoen, maar is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan.
Sy sal wel verdere behandeling moet ontvang.
September self het drie ribbes gebreek, drie gekraak en kneusplekke aan sy bene opgedoen.
Sy ander dogter, Margòt, en haar dogtertjie, Cislé (2) was agter in die motor.
Margòt het tydens die botsing bo-op haar dogtertjie gaan lê het om haar te beskerm.
Volgens kapt. Louis Visser word ’n saak van roekelose of nalatige bestuur ondersoek.