
Ek sit een aand en filosofeer sommer so op my eie met ’n lekker hardekoolvuur wat een-kant brand, en musiek uit my studentedae wat op die iPad met sy eksterne luidsprekertjie speel.
In die ou dae moes ons plate speel op draaitafels wat deel was van ’n Kenwood of Sansui HiFi-stelsel met groot “speakers”. Ek het nog hope LP’s en nog meer CD’s in die tyd daarna, maar helaas … daai dae is grotendeels verby, al word dit weer so effens mode. Nou gebeur alles sommer baie gemaklik – en gratis – uit die internet uit en enige musiek denkbaar is binne sekondes toeganklik. Dit is eintlik baie lekker. Die enigste prys wat jy betaal is om deur- en om – die lastige, irriterende advertensies te navigeer.
Ek sit en lees oor ou rockers wat nie meer met ons is nie. Hulle word gaandeweg al meer en meer. Ek luister na Lobo se “Me and you and a dog named Boo:” en my gedagtes gaan dadelik terug na my vriend Charlie. Ons het ’n lang ruk saam gewerk en ons was ’n gedugte span. Jare na ons paaie uitmekaar is, het Charlie sy eie lewe geneem en dit bly my ongelooflik by. Dit was baie onverwags en baie hartseer. Iewers het iets verkeerd gegaan, maar ons weet steeds nie regtig wat nie. Almal het maar gespekuleer en allerlei dinge en mense probeer blameer … soos dit maar in ons natuur is. As ons nie inligting het nie, maak ons ons eie op. Hiedie dimensie van menswees is maar moeilik vir ’n linkerbrein dominante ou soos ek. My realiteit is kwantitatief, vol berekeninge en baie analities, detail is belangrik met logika wat die groot prentjie maak werk.
Ek kyk weer na die vuur en die rustigheid van die vlamme. “African TV” het ons dit grappenderwys in die jagkamp genoem. Ek dink aan Charlie se begrafnis in Desember. Ons gesin was al op vakansie by die see en moes ek ’n klompie reëlings maak om daar te wees. Ek het jare gelede ’n rubriek raakgelees waar die skrywer gepraat het van iets wat hom na aan die hart gelê het – hy het dit beskryf as “Gaan maar begrafnis toe”. Dit beteken jy moet die regte ding doen al is jy regtig nie eintlik lus om dit te doen nie. Herinner jouself maar daaraan sodra jy die een of ander klein gebaar kan maak, terwyl jy nie eintlik hoef nie en beslis nie lus is nie. Daardie goedjies wat ongerieflik is vir jou, maar die wêreld beteken vir die ander ou. Soos die inloer op ’n kennis in die hospitaal of gaan kyk hoe speel ’n vriend se seun rugby by die skool. Dit is ’n klein bietjie moeite wat baie beteken vir die ander ou.
Dan is daar die ander groep dinge wat ons nie lus is om te doen nie. Ons almal het hulle. Dié wat jou keel laat toetrek en jou maag op ’n knop laat trek as jy net daaraan dink. As dit baie erg is kan jou mond selfs droog raak. (Hoe gebeur dit in elk geval?) Dit is maar weer die goed wat ons nie wil doen nie. Ons skuif dit maklik na die onderkant van die “to do” lysie, merk die e-pos as ongelees of “flag” dit met ’n kleurtjie om later aandag te kry, en ons stel dit uit.
Gelukkig is daar probleemsituasies wat hulle self oplos of weggaan wanneer jy dit genoeg uit-stel. ’n Prof van my op universiteit het daarvan gehou om in sulke moeilike situasies te sê “Let’s let things develop”.
Gee die probleem (en jouself) lug. Ongelukkig gaan dit nie altyd weg nie. Die kwessie is dat ons soms eenvoudig te lui is en nie lus is om te doen wat gedoen moet word nie – of net nie weet wat om te doen nie.
Soos ek dan maar vir myself sê … Stry die goeie stryd. Gaan maar begrafnis toe. (Deur Johan Strasheim)