Maak seker jy is veilig dié winter!

Dit is winter, en op Oudtshoorn neem misdaad gewoonlik hierdie tyd van die jaar toe. Hier volg ’n paar wenke om jou gesin en eiendom veilig te hou hierdie winter:

Heinings en hekke:
• ’n Hoë heining rondom die huis met hekke wat kan sluit, is baie veiliger as ’n hoë muur. Die voordeel hiervan is die verbeterde sigbaarheid wat dit bied.
• Sorg dat hekke te alle tye gesluit is en dat die sleutels nie maklik bereik kan word nie.
• Veiligheidshekke met stewige slotte voor elkeen, en diefwering voor vensters wat dit heeltemal bedek, word aanbeveel.

Alarmstelsels:
• ’n Alarmstelsel, verkieslik gekoppel aan ’n gewapende reaksie-onderneming, is ’n baie effektiewe afskrikmiddel.
• In landelike omgewings is ’n sirene / alarm op die dak, wat oor ’n lang afstand gehoor kan word en met behulp van ’n skakelaar of paniekknoppie geaktiveer kan word, van groot hulp.

Veiligheidsligte:
• Veiligheidsligte aan die buitekant van die huis verbeter die veiligheid van ’n huis, plaas of kleinhoewe.
• Die ligte moet van die huis af wegskyn, en moet die inwoners toelaat om die vensters te gebruik sonder om van buite waargeneem te word.
• Wees bewus van moontlike blinde kolle.

Gruisklippies is uitstekende ‘verklikkers’
Dit is bykans onmoontlik om nie ’n geluid te maak wanneer hy oor gruisklippies loop nie, en daarom is dit ’n baie goeie verklikker wat vir jou kan aandui dat daar iemand buite jou blyplek rondloop.

Ander eenvoudige maartreëls wat mense kan volg om hul blyplekke te beveilig is om alle tuingereedskap binne te bêre en so seker te maak dit kan nie in ’n moontlike inbraak gebruik word nie.

Sluit altyd jou voertuig en parkeer dit verkieslik agter slot en grendel.