Verpleegsters werk daagliks, net soos wat Jesus gedoen het, met alle soorte mense, maar kry nie altyd die erkenning wat hulle verdien nie .
So het ds. Andre Boezak van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) verlede Vrydag tydens die viering van Internasionale Verpleegstersdag by die Oudtshoorn provinsiale hospitaal gesê.
Hulle red mense se lewens en dra dikwels, soos ’n Simon van Cirene, mense se kruis wanneer hulle self dit nie kan doen nie. Die verpleegsters het soos altyd weer die verpleegsters diensgelofte afgelê en hulle opnuut verbind tot diens aan die mensdom en onderneem om hul beroep met nougesetheid en waardigheid te beoefen.
“Die gemeenskap het julle so nodig omdat jul werk grens aan wat Jesus gedoen het. Julle red mense se lewens maar word nie waardeer nie. Dankie vir die werk wat julle doen en moenie ophou daarmee nie,” het Boezak die verpleegsters bemoedig. “Julle is spesiale mense in die samele-wing, maar hoeveel mense kom nadat hulle ontslaan en weer gesond is, terug na die hospitaal om dankie te sê.”
Volgens Boezak verdien gesondheidsorg en onderwys om die grootste gedeelte van die land se begroting te kry.
Die mediese bestuurder van die hospitaal, dr. Charles Dreyer, het in sy boodskap die verpleegsters bedank vir die werk wat hulle doen en gevra om nie te vergeet hoekom hulle geword het wat hulle geword het nie.
“Ons leef in tye van groot onsekerheid en veral oor die besnoeiing van die begroting vir gesondheidsorg.”
Hy het ook die verpleegsters gemaan om hul woord versigtig te kies in die teenwoordigheid van pasiënte en nie iets onbesonne te sê wat pasiënte sal seermaak nie. “Gee net altyd jou beste,”
Die Streeksdirekteur: Gesondheidsdienste, mnr Zee Brickles, het ’n beroep op die verpleegsters gedoen om daagliks hul wonings in ’n goeie luim te verlaat.
“Daar word opgekyk na verpleegsters. Verple-ging is ’n roeping, wees toegewyd en maak van elke dag verpleegstersdag,” het Brickles gesê. Na afloop van die fomaliteite het hul aangesit vir ’n heerlike ete. (Deur Garnett Wicomb)
- Internasionale Verpleegstersdag word jaarliks wêreldwyd rondom 12 Mei, op die geboortedag van Florence Nightingale, gevier.
