Dit gons toe Kannaland van moontlike korona hoor

LADISMITH het behoorlik gegons en blitsboodskappe het rondgevlieg toe inwoners hoor ’n groot taxibesigheid het dalk die koronavirus die dorp ingebring.

Kannaland is tans die enigste munisipaliteit in die Tuinroete wat geen gevalle het nie.

Die korona-gerug het ontstaan toe dit bekend geraak het dat ses passasiers van ’n taxi vanaf Kaapstad in die Alan Blyth Hospitaal op die dorp oornag het.

’n Passasier in ’n taxi wat van Kaapstad na Ladismith gereis het, was skynbaar ’n maand gelede in aanraking met sy seun wat positief getoets het vir die virus.

Onder die mense wat opgeneem is, was Kedoets Taxis se mede-eienaar, Lano Oransie.

Reginald Oransie, eienaar van Kedoets Taxis, het genoem: “Ons verwelkom die voorsorgmaat-reëls. Ons vra net dat alle taxi’s dieselfde behandel word by padblokkades en nie net sekeres ge-target word nie.”

Volgens dr Jaco Denkema, hoof: gesondheid in Kannaland, is die passasiers as voorsorgmaatreël opgeneem vir kwarantyndoeleindes. ’n Epidemio-logiese evaluasie is gedoen om blootstelling te bepaal.

Die passasiers is egter hierna ontslaan omdat hulle nie blootstelling gehad het nie.

Denkema het ’n beroep op inwoners gedoen om basiese maatreëls na te kom ten opsigte van higiëne, sosiale afstand en die Vlak 4-reisbeperkings.

Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid, word mense indien nodig in kwarantyn geplaas. Indien hulle nie tuis in kwarantyn geplaas kan word nie, word ’n staatsfasiliteit vir hulle beskikbaar gestel. (Deur Deon Meyer)