Kan nie glo dat daar persone is wat in die teenwoordigheid van ander gedurende die lockdown sonder ‘n masker staan en rook nie. Dis vir my ‘n bewys van geen respek nie. My man wat nog nooit in sy lewe gerook het nie, sê altyd dat rokers die selfsugtigste mense is. Nou wonder ek waar kry rokers nou nog sigarette? Miskien bly dit ook nie net by sigarette nie, want ek kan nie dink dat strawwe rokers nou nog kan uithou nie. Hulle sal definitief op die swartmark probeer in die hande kry. Twee weke gelede ry ’n ouerige polisiebussie met drie insittendes in voor my in Hoogstraat. Ek kon nie glo wat ek sien nie. Die bestuurder steek sy arm by die venster uit om ‘n sigaret te “tip”. Baie steur hulle nie aan wette nie en maak wat hulle wil. Dit maak dit moeilik vir diè wat wel gehoorsaam is.
Ek het nog net een keer sedert ons weer buite mag stap, iemand gekry wat met ‘n hond sonder ‘n leiband stap. Al die ander mense se diere het oggend na oggend hul leibande aan. Welgedaan, Oudtshoorniete!
Daar word die hele tyd net gepraat oor die terugkeer van leerders na skole, maar nooit word daar spesifiek iets gemeld oor spesiale skole vir leerders met gestremdhede nie. Daar sal nooit afstandbeheer ten volle toegepas kan word nie, omdat baie leerders afhanklik is van versorging en fisieke kontak tussen die verantwoordelike personeel en die leerder elke dag plaasvind. Dit hou ’n gevaar vir die leerder en perso-neel in. Dieselfde met die verpligte dra van maskers. Daar is leerders wat weens hul spesifieke gstremdheid nie maskers kan dra nie. Wonder hoe voel ouers van hierdie kindertjies hieroor? ’n Leerkrag van ’n skool vir dowes het onlangs hieroor navraag gedoen. Dis asof hierdie inrigtings vergete is. Maar net hieroor gewonder.
Vandag is die 47ste dag van lockdown. Ek let op dat die motorwagte en straatkinders hul opwagting begin maak. Baie mense in die middedorp loop sonder maskers en daar is geen afstandsbeheer nie. Dit lyk na ’n doodgewone inkopiedag en jy moet sukkel om par-kering te kry. Diegene wat nie by die reëls hou nie, gaan veroorsaak dat ons weer teruggaan na Fase 5. Die polisie en verkeersvoertuie ry verby hierdie mense en spreek hulle nie aan nie. In die stede kry mense groot boetes vir hierdie oortreding. In Oudtshoorn maak sommige mense soos hulle wil. Kannieworrie.
