Briewe

Verhoging in tariewe sal na bankrotskap vir baie lei

Ek het baie steun ontvang vir my beswaar en standpunt teen die voorgenome tariefverhogings op Oudtshoorn. Die hoof- rekeningkundige be­amp­te, mnr Gerald de Jager, het skriftelik aan my bevestig dat hy deur al die prosesse sal gaan en dat daar behoorlike terugvoering aan my gegee sal word. Terugvoering sal geskied na die sluitingsdatum met inagneming van alle besware ingedien.

Tientalle mense het my gekontak en bevestig dat indien daar voortgegaan word met die verhoging van tariewe, hulle in bankrotskap sal verval. Die meeste inwoners het eenvoudig nie hierdie tipe geld nie. Buiten die raadslede en senior amptenare kry almal finansieel geweldig swaar en kan baie nie eens brood op die tafel sit nie, in teenstelling met raadslede wat duur voertuie ry, in duur huise bly en allerhande luukshede kan bekostig.

Verskeie faktore, soos die kansellasie van die KKNK en Klein Karoo Klassique, het bygedra dat die inkomste van Oudtshoorn se besighede dramaties verminder het. Die grootte en getal munisipale amptenare moet dringend hersien word. Die vermindering in die getal amptenare sal ’n wesenlike impak op die finansiële toestand van die munisipaliteit hê. Daar is eenvoudig net te veel amp­tenare vir die hoe­veelheid werk. Oudtshoorn het 40% meer amptenare in diens as gelykstaande dorpe in die Wes-Kaap.

Uit die aard van die saak moet geen nuwe amptenare aangestel word nie. Wat egter in praktyk gebeur, is dat amptenare op ’n lae posvlak aangestel word en dan baie vinnig “verhoging” kry.

Die waarde van eiendomme het ook drasties verminder. Die grootte en waarde van die eiendom moet weer geëvalueer word en die belas­ting dien­ooreenkomstig verminder word.

Mnr Sylvester, asseblief, luister na die smeek­bede van die armes en werkloses. Moet nie die belasting verhoog nie.

In baie gevalle het ’n menigte van die groter ge­boue, kantore, hotelle en gastehuise se inkomste met maklik 80% en meer verminder. Hulle sal dit nooit weer inhaal nie. Volgens u berekeninge sal hulle nooit uit hul skuldlas kom nie en definitief bankrotskap on die oog staar. Sal u en u mede-raadslede hiermee kan saamleef?

Onthou, hierdie is ’n noodtoestand!

Die inwoners van Oudtshoorn sien in afwagting uit na ’n antwoord!

  • Nic Barrow

Gesprekke oor rassisme

Ek het met belangstelling die briewe wat deur dr Piedt in Die Hoorn oor rassisme geskryf is, gelees. Die reaksie van mnr Glen Snyman hierop is baie interessant.

As inleiding tot my brief haal ek die volgende aan uit dr Piedt se skrywe: “Deur nuwe inklusiwiteit sal jou spasie nooit weer dieselfde wees nie; saam sal ons ’n nuwe diverse en ryk identiteit bou, en sal ons onself bevry van ’n verkeerde nostalgie.” en “Let us exploit this space for a better tomorrow, not only for us, but explicity more for our children.”

Ek verwys ook na twee stellings in mnr Snyman se brief in Die Hoorn: “Wanneer gaan ons regering met sy rasbeheptheid stop?” en “Kom ons los rassisme op deur op te hou om na onsself en andere te verwys as bruinmense, witmense of swartmense. Vandag kan ons nie eens met iemand ’n rassistiese grappie maak nie of daardie persoon wil ’n saak teen jou maak”.

Van 1991 tot 1993 was ek uit die aard van my beroep aanwesig by ver­skeie onderhandelingsgesprekke in verband met die totstandkoming van ’n nuwe bedeling. Dit was hoofsaaklik gevoer op amptenaarsvlak (staatsamp­tenare en ANC-kaders) om rigting te gee aan finale gesprekke deur die po­li­tici. Ek het dikwels saans uit Pretoria by my huis in Pietersburg gekom en gesê dat ek nie kan glo dat ons en die ANC so goed saamwerk om ’n nuwe bedeling te bereik nie. (Terloops op ‘amptenaars’-vlak was daar ooreenstem­ming dat Suid-Afrika ’n 10 jaar-oorgangsperiode sal hê. Vandag is dit algemeen bekend dat politici dit van die tafel gevee het.)

As gevolg van my ervaring ten opsig­te van die onderhandelinge het ek in 1994 in my geestesoog ’n swart jeug gesien wat gaan help om Suid-Afrika in ’n vooruitstrewende staat te help ver­ander. Hierdie droom van my het, soos vandag bekend, ’n nagmerrie geword. Ons het verander in ’n staat van korrupsie, geweld, protesoptogte, brandstig­ting, vernietiging van die ekonomie, rassisme, ens. Indiër-, bruin- en witmense is al hoe meer uit die openbare ondernemings weggelaat en met onbe­voegde ANC-kaders vervang wat blykbaar daar geplaas is met een doel voor oë: om te vat, te vernietig en die land bankrot te steel.

Selfs Covid-19 word op die oomblik misbruik deur ’n rasbehepte ANC-re­gering. ’n Voorbeeld is die beperkings op die wyn- en tabakbedryf en hulp aan kleinsakeondernemings en toerisme. In die apartheidsjare kon swart, bruin en wit nooit effektief onafhanklik van mekaar funksioneer nie. Die verskillen­de kulture met unieke vaardighede is ook vandag in Suid-Afrika sterk opmekaar aangewese.

Glen Snyman maak ’n sterk argument teen rassisme in sy brief uit. Dit is vir my onverstaanbaar dat die ANC, wat ’n groot meerdersheidsgroep is, bang is vir minderheidsgroepe. Is dit dalk omdat minderheidsgroepe se kultuur en gewoontes op eerlikheid en hardwerkendheid ingestel is en nie die soeke vir ’n geleentheid om korrupsie uit te dink nie?

  • Bart Vosloo, Oudtshoorn

Please take your stand!

Please take your stand
Do it for the people of your great land.
God bless you!
God bless South Africa!

  • Shaun Stuart

Moeg vir woord ‘apartheid’

Ek wil net aansluit by Johannes se brief verlede week.
Met die rugbywêreldbeker-oorwinning het ons gejuig, hande gevat, omhels – wit, bruin en swart. Met Covid-19 het ons almal – wit, bruin en swart – saamgestaan om honger mense te voed. Maar as ons moet saamstaan om Suid-Afrika ‘n beter plek vir almal te maak en vorentoe te vat kan ons dit nie doen nie.

Hoekom? Rassisme en apartheid by swart mense wat nou net omgeruil is. Ek is wit en moeg vir die woord apartheid wat nooit sal terugkeer nie. Apartheid bestaan nie meer nie. In die kompleks waar ek bly, sien ek nie eers kleur raak nie.

’n Parlementslid het gesê: South Africa is in deep trouble. So as ons verdeeld bly en alle rasse nie saamstaan om ons land winsgewend en welvarend te maak en vorentoe te neem nie, gaan Suid-Afrika sink.

Dit was nie Nelson Mandela se visie nie. Ons munisipaliteite presteer swak en kan nie die nodige dienste lewer nie. Ons regeringsdepartemente is besig om te verkrummel oor swak bestuur en vermorsing van geld en Suid-Afrika is tot rommelstatus verlaag. As Suid-Afrika sink, gaan die swartmense wat bevoor­deel word, ook sink, want daar gaan nie meer geld wees nie.

  • JB, Oudtshoorn