DIS al weer daardie tyd van die jaar – opwindend vir skoolkinders, studente, verliefdes, verloofdes en party getroudes.
Gevrees deur enkellopendes, ander getroudes en soms deur die Adams-geslag.
Die goeie nuus is egter dat daar baie maklike, interessante en soms selfs onkonvensionele maniere is waarop almal die maand van die liefde kan vier sonder om die hele maand se salaris op ’n bos eksotiese blomme of ete uit te gee nie.
Hier is ’n paar sakpas-idees vir elke vlak van ’n verhouding, of sommer vir jou op jou eentjie ook.
• Pizza en ’n fliek: Wat is dan nou lekkerder as ’n lekker rustige aand met ’n fliek op die TV en die wete dat niemand voor die stoof hoef te staan en sweet nie!
• Piekniek in die tuin: Wag dat dit bietjie later word en afkoel. Pak ’n mandjie met heerlike toebroodjies, peuselhappies en ’n lafenis vir die keel.
- ’n Roosblaar-borrelbad: Lekker warm water, borrels wat na eksotiese blomme ruik, romantiese kerslig en ’n wyntjie om te ontspan. En as jy romanties is, strooi jy roosblare om ’n paadjie te maak wat jou geliefde na die water lei.
- ’n Pamperlangsessie by die huis: ’n Oulike idee is om tuisgemaakte “geskenkbewyse” vir jou liefde te gee, soos ’n rug- of voetmassering. Jou geliefde kan dan kies wanneer en watter sessie hy of sy wil hê.
- ’n Romantiese ete en dans: Daar is niks lekkerder as om deur jou geliefde vasgehou te word terwyl julle in mekaar se oë kyk en ritmies op die maat van jul gunsteling liedjie dans nie.
Kombineer dit met ’n regte “old school” romantiese ete, ’n tafel gedek met kerse en blomme en jul gunsteling-disse.
Uiteindelik gaan dit maar net oor die liefde, en om die spesiale een in jou lewe te waardeer – nie net op Valentynsdag nie, maar elke liewe dag van die jaar. (Deur Angelique Erasmus)