
DIE omvang van brandskade nadat ’n brand verlede Donderdag buite die spreekkamer van drs Barnard en Lottering op Oudtshoorn uitgebreek het, is nog nie bepaal nie.
Die brand het klaarblyklik ontstaan toe vonke terwyl daar aan ’n palissadeheining buite gesweis is, droë plantmateriaal in die tuin aan die brand gesteek het. Palmbome voor die gebou het ook vlamgevat.
Dr Deon Barnard sê daar is gelukkig nie groot strukturele skade aan die gebou waarin die praktyk geleë is nie. “Van die dakbalke het gebrand en daar is skade aan die plafon en teëls, maar daar sou beslis meer skade gewees het as die brandweer nie so vinnig opgetree het nie.”
“Ek wil die Oudtshoorn Brandweer bedank vir vir hul flink en professionele diens. As hulle tien minute later hier opgedaag het, sou daar vir seker meer skade gewees het.”
Volgens Barnard het assessors reeds die gebou besoek en ’n bouer aangestel om die omvang van die skade te bepaal.
Nog ’n besigheid in die omgewing het ook skade gely in die brand nadat ’n redelike sterk wind wat gewaai het vonke na ’n palmboom oorkant die pad by Max Auto versprei het, Dié boom het ook aan die brand geslaan en skade aan die gebou aangerig.
Joey Muller, eienaar van Max Auto, sê hul vensters en ’n glasdeur het weens die hitte gebars, twee rakke gesmelt en die blindings gesmelt.
“Ons is baie gelukkig dat die skade so beperk is, aangesien die besigheid terpentyn, verf- en rubberprodukte verkoop wat hoogs ontvlambaar is.”
Successful Financial Planning, wat ’n kantoor in dr Barnard en Lottering se gebou beset, het op hul beurt water- en rookskade gely. (Deur Angelique Erasmus)