VYF gesinne van Oudtshoorn het so te sê al hul besittings verloor toe ’n verwoestende brand verlede Sondag in die vroeë oggendure in Malvahof en Dahliahof in Bridgton uitgebreek het.
Die twee strate loop parallel met mekaar.
’n Kerk is ook in puin gelê en al die musiekinstrumente is vernietig.
Een persoon is beseer en een van die gesinne se honde het in die brand omgekom. Nog ’n hond het brandwonde opgedoen en twee klein hondjies is deur die plaaslike diereorganisasie, Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), gered.
Die oorsaak van die brand is steeds onbekend.
Marlin Jaars (18) wat in Malvahof bly, sê hy het die oggend omstreeks 03:45 wakker geskrik toe hy mense hoor skree het.
“Ek het uitgehardloop en net vlamme gesien,” sê hy.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word geen misdaad vermoed nie en geen kriminele saak ondersoek nie.
“Die Oudtshoorn Munisipaliteit het reeds sinkplate en houtpale by die erwe afgelaai sodat die gesinne so gou moontlik hul huise kan herbou,” sê Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit.
• Die Hoorn is deur verskeie mense ingelig dat die slagoffers in groot nood is en dringend klere, skoene, beddegoed en huisraad benodig.
Mense wat skenkings wil maak, kan dit by die huise gaan afgee. Die huise is naby die hoek van Dassie- en Springbokweg in Bridgton geleë. (Deur Angelique Erasmus)
