Man kry 17 jaar vir verkragting en aanranding

’N 37-JARIGE man van ’n plaas in die Ladismith-distrik wat daarvan aangekla is dat hy ’n vrou verkrag het terwyl hy op parool was, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Streekhof vir 17 jaar tronk toe gestuur.

Die man, Geoffrey Visagie, is skuldig bevind aan verkragting en aanranding met die opset om ernstig te beseer .

Die hof het bevind Visagie het ’n vrou wat aan hom bekend is, op 6 Oktober 2018 verkrag en daarna met sy fiets oor haar gery.

Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê dit gaan haar verstand te bowe dat ’n man ’n vriendin kan verkrag en verneder, nadat hulle vroeër die aand lekker saam gekuier het.

“Dit maak my siek,” het die landdros gesê.

Volgens die landdros was Visagie se slagoffer nie ’n vreemdeling nie.

Hulle het in dieselfde buurt gewoon en die vrou sou verwag het dat hy haar sal beskerm.

“Ons is almal broers en susters en behoort mekaar te beskerm,” het die landdros gesê.

Die vrou het vir haar man gesê sy wil huis toe gaan om te gaan slaap toe Visagie haar agtervolg en oorrompel het.

Hy het onskuldig gepleit, maar sy weergawe van die aand se gebeure is deur die hof as vals verwerp.

Die landdros het met vonnisoplegging gesê sy kon geen wesenlike of dwingende omstandighede vind om van die minimum vonnis van tien jaar vir verkragting af te wyk nie.

Visagie is in 2011 tronkstraf van 13 jaar vir moord opgelê.

Hy is in 2017 op parool vrygelaat.

Hy is deur landdros Moni tot 14 jaar tronkstraf gevonnis vir verkragting en drie jaar vir aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuur­wapen te besit.

Visagie kan binne 14 dae teen sy skuldigbevinding en vonnis appelleer. (Deur Garnett Wicomb)