700 neem deel aan 14de Relay For Life

NEGE EN TWINTIG spanne het Saterdag op Oudtshoorn aan die 14de Relay For Life deelgeneem.

Relay For Life vind jaarliks op die tartanbaan by die De Jager Sport-kompleks op Oudtshoorn plaas.

Vanjaar se Relay is goed deur die gemeenskap ondersteun, sê Susann Breytenbach, Kansa se afdelingsbestuurder vol­houbaarheid vir die Suid-Kaap en Klein Karoo, Kaap Metro en Springbok.

Sowat 700 mense het deelgeneem, party as spanlede en ander individueel.

Die 32 kankeroorwinnaars wat ook deelgeneem het, is elkeen met ’n spesiale ete bederf, en het ook elkeen ’n spekboompie as geskenk ontvang.

’n Hoogtepunt van die byeenkoms was die Golden Oldiesspan wat met vier pryse weggestap het – vir hul deelname aan die Funky Hats-, Ou­tydse Ballroom-, Funky Chicken- en die Klaasvakie-rondes.

Breytenbach sê die oudste deelnemer aan vanjaar se Relay was 90 jaar oud, en ook hy het die heel aand om die baan gestap.

“Die reën wat die aand geval het, het ook nie deelnemers gestuit nie, maar die Relay moes weens beurt­krag om 04:00 stop.”

Fondse wat vanjaar met die Relay ingesamel is, gaan vir kankernavor­sing, ondersteuning van kankerpa­siënte en hul families, asook bewus- makingsveldtogte.

’n Hoogtepunt by elke jaar se Relay is die luminaria-seremonie, wat vanjaar deur Denver Wessels geopen is. Hy het sy kankerreis met deelnemers gedeel om hul te inspi­reer.

Luminariasakkies word jaarliks opgedra aan kankeroorwinnaars, diegene wat nog die kankerstryd stry en geliefdes wat nie meer met ons is nie.

Mense wat belangstel om op die Kansa Relay For Life 2021-komitee te dien kan Adri Odendaal by 072 133 0444 kontak. (Deur Angelique Erasmus)